Die beskuldigdes is van links Morapeli Rankali, Motlalentwa Qhautse, Lizbeth Ndlala, Themba Lawrence Maja, Oupa Jeffrey Mahomane, Samson Sam Mbokane en Jabulani Zuma.

Foto: Charné Kemp

Jabulani Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, wat van die moord en aanval op die Kimberley-sakeman Piet Els (86) en sy vriendin Riekie Alsemgeest (toe 68) aangekla word, se beledigings en dreigemente vanuit die getuiebank toon sy desperasie om homself van verdoemende selfoon- en ander getuienis te verwyder.

So het adv. Hannes Cloete, aanklaer, verlede week in die hooggeregshof in Kimberley in sy slotbetoë aangevoer in ’n verhoor wat in 2021 begin het.

Els-hulle is op 23 Januarie 2018 in sy huis buite die stad aangeval en gemartel.

Hy is 100 dae later in die waakeenheid aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die ander aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; en Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga. Zuma (62) is van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

’n Groep onder leiding van Zuma het vanuit Mpumalanga na Kimberley gereis en by Amos Ralihlare, die ander baasbrein wat steeds soek is, en sy trawante, aangesluit in ’n sameswering glo om Els van sy Krugermunte te beroof.

Die polisie het Ralihlare kort na die moord deur hul vingers laat glip.

Hul ondersoek het hulle na Rankali se huis gebring waar hulle Els se trouring in twee stukke met die diamant verwyder, gekry het.

Rankali het die ring glo vir sy broer, Karabo Rankali, gehou en van die voorval geweet. Hy het die polisie na Qhautse se huis verwys waar die polisie twee pare tekkies ontdek het.

Die sole het ooreengestem met skoenafdrukke wat op Els se werf gevind is. Die ondersoek het lank gedraal totdat die polisie ’n sein van Els se selfoon bespeur en dit by Mahomane se woonplek in Mpumalanga opgespoor het.

Die nommers daarop en van ander selfone het hulle na die ander verdagtes gelei. Van hulle was in besit van munte, juwele, ’n kamera, sak en Els se selfoon.

Volgens Cloete moes die aangeklaagdes voorsien het dat bejaarde mense aan hul beserings kon beswyk.

Die regter kan in sy uitspraak ’n ekstreme afleiding maak dat hulle aan moord skuldig is, benewens huisbraak en roof.

‘Verklap skuld’
Die beskuldigdes se uitlatings in hul aanvanklike polisieverklarings verklap hul skuld, hoewel hulle dit in getuienis aangepas het. – Adv. Hannes Cloete, aanklaer

Cloete het aangevoer Rankali moet aan diefstal skuldig bevind word. Qhautse was een van die aanvallers en moet aan moord, roof en huisbraak skuldig bevind word.

Hoewel hy aanvoer die tekkies behoort nie aan hom nie, was hy met sy inhegtenisname kaalvoet.

Hy het nie getuig nie of probeer toon dat die tekkies nie sy voete pas nie, en geen alibi verskaf nie.

Ndlala, Maja en Mbokane (tradisionele helers) moes ’n ritueel vir die rooftog uitvoer. Hulle het die buit van bondels kontant wat Zuma uitgedeel het, en ander items, gedeel.

Dié drie se regsverteenwoordigers, advv. Japie Schreuder en Themba Diba, het in betoë ontken dat hulle van enige sout of water geweet het.

Mahomane is volgens die staat as instrument gebruik om saam met drie Sotho-sprekende vir Els te beroof. Hy het erken hy was op die toneel, maar hy het glo niemand aangerand nie.

Hy het telefonies met Zuma en Maja ten tyde van die voorval gepraat. Zuma het glo die aanvallers af- en van hulle weer opgelaai.

Adv. Moetleetsi Mokwera het namens Zuma aangevoer hy was net die bestuurder van die motor na en van Kimberley, en het die nag van die aanval geslaap terwyl ander mense sy selfoon gebruik het.

Vandaar die beledigings
Cloete het aangevoer Zuma wil hom sover moontlik van die verdoemende selfoongetuienis verwyder, vandaar die beledigings en dreigemente teenoor die aanklaer.

Benewens die oproepe aan die aanvallers, toon Zuma se selfoonbewegings dat hy vooraf, ten tyde en ná die aanval naby die moordtoneel beweeg het.

Zuma is ’n onbetroubare en ongeloofwaardige getuie, sê hy.

Regter Lawrence Lever lewer op 27 Januarie 2025 uitspraak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article