Die sewe beskuldigdes wat van onder meer die moord op Piet Els, ’n sakeman van Kimberley, en die aanval op sy vriendin in 2018 op sy plaas buite die stad aangekla word, gaan vandag ’n hofaansoek om ontslag by die hooggeregshof indien.
Een van die beskuldigdes is Jabulani Zuma, ’n seun van oudpres. Jacob Zuma. Die beskuldigdes se aansoek kom nadat hul regsverteenwoordigers aangevoer het daar is nie genoeg bewyse teen hulle nie.
Die beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal. Hulle staan tereg op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het gister sy saak gesluit. Die verdediging se regslui het uitstel gevra om die hofrekord te bestudeer voordat hulle hul vertoë in hul aansoek lewer.
Zuma het gister ook sekere bekentenisse gemaak nadat hy Maandag daarteen geskop het en deskundiges wou roep om oor selfoongetuienis te getuig.
Vroeër het kapt. Hanlie Conradie, misdaadintelligensie-ontleder, getuig dat sy die beskuldigdes se selfoongebruik voor, gedurende en ná die misdaad ontleed het om verwantskappe tussen die individue te bepaal.
Luidens die selfoondata het Zuma op 22 Januarie om 08:23 in Kimberley aangekom. Sy foon is tot met sy vertrek op 24 Januarie om 06:47 via Boshof in die Vrystaat op verskeie selfoontorings in Kimberley bespeur. Dit beteken hy het meestal in Kimberley rondbeweeg. Op die nag van 23 Januarie 2018 en ten tyde van die misdaad in die oggendure van 24 Januarie is sy selfoon deur inkomende en uitgaande oproepe op selfoontorings naby die misdaadtoneel en elders in die stad geaktiveer. Zuma het ook verskeie oproepe na en van Mahomane, Maja, Mbokane en die tradisionele geneser Johannes Ralihlare gemaak en/of ontvang.
Op die lys van bekentenisse stem die beskuldigdes saam dat daar nie genoeg DNS-bewyse beskikbaar was in die Mercedes-Benz en in twee pare tekkies wat by van die beskuldigdes se huis gevind is om in ’n vergelyking te gebruik nie. Die DNS wat op die bottel in die motor, die stuurwiel en rathefboom gevind is, is nie afkomstig van enige van die sewe beskuldigdes nie.
Regter Lawrence Lever is op die bank.
* Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aangerand nadat die aanvallers die huis binnegedring het. Els is 111 dae ná die aanval op 24 Januarie 2018 in die hospitaal aan sy beserings dood. Alsemgeest het oorleef. Die aanvallers het in Els se Mercedes-Benz gevlug.


