Die ywerige ATKV-jeugtak van die Hoërskool Upington (Uppies) het die afgelope tyd, ongeag Covid-19-uitdagings, rotsvas gestaan en met sy projekte voortgegaan.
Madelein May en haar Kultuurdiere van Uppies het inderwaarheid die afgelope vyf jaar reeds baie vermag.
Die groep ywerige lede het ’n klimraam in ’n gebied gebou waar nie baie ontspanningsgeriewe vir kinders is nie; hulle het sertifikate en sjokolade aan petroljoggies oorhandig as blyk van waardering vir onbaatsugtige diens; en hulle het ’n klas met minder gegoede leerlinge van onder meer warm baadjies en skryfgoed voorsien.
Hulle het bingo-geleenthede en ’n vermaaklikheidsprogram by die Oranjehof-aftreeoord aangebied, komberse aan inwoners van Pabalello geskenk en het ná ’n kultuurkonsert R15 000 aan hul koshuis vir droogtehulp gee.
Vanjaar het hulle ook onderwysers op verjaardaggeskenke trakteer en tot twee spoggeleenthede bydra, ’n verfkwasgeleentheid aanbied en Woensdae ’n geleentheid waartydens leerlinge kon leer brei.
Die ATKV-Rooiduintak en Marco van den Berg, ATKV-streekbestuurder, het sertifikate aan May oorhandig om haar te bedank vir die rol wat sy hierin speel. May is ook vereer vir dit wat sy vir die ATKV-Rooiduintak doen, onder meer die Handevat-projek met die Hoërskool A.J. Ferreira, wat drie jaar se volgehoue hulp aan die verbruikerstudieklas behels, asook die ATKV-leesprojek.
“Madelein gee regtig om vir haar gemeenskap en het ’n wonderlike manier om met kinders te werk,” sê Helena Conradie van die ATKV-Rooiduintak.
Van den Berg en Beatrix Venter, voorsitter van die ATKV-Rooiduintak, sê hulle is dankbaar dat May altyd die Hoërskool Upington se geriewe tot die ATKV se beskikking stel en altyd met hul werksaamhede help.
Riaan Kotzé, Uppies-skoolhoof, het May en haar Kultuurdiere vir al hul werk bedank.
“Ek doen soms iets omdat die geleentheid my onmiddellik aan die hart gryp en ek dadelik wil help.
“Dankie dat julle my hart ken en verstaan. Baie dankie aan die ATKV. Ek hoop om nog lank van diens te wees,” sê May.