Die pretpark was ’n gewilde besoekpunt tydens verlede jaar se Yonder Hartsfees.

Foto: Helena Barnard

Stalletjiehouers wat graag hul produkte op die derde Yonder Hartsfees in Kimberley wil uitstal en verkoop, kan nou reeds aansoek daarvoor doen.

Die fees word vir 31 Augustus tot 3 September beplan, en vind op die terrein van die Noord-Kaaplandse Geestes­gesondheidsvereniging – in die volksmond bekend as Yonder – plaas.

Verlede jaar het meer as 27 000 besoekers die fees oor vier dae bygewoon, en die organiseerders is trots op die gehalte en veiligheid van die fees.

Dit word as ’n gesinsfees bedryf waar in die behoefte van elke lid van die gesin voorsien word.

Nasionale en plaaslike kunstenaars sal optree, en hulle sal mettertyd aangekondig word.

Die fees bied onder meer vele kunsmarkstalletjies, ’n rustige omgewing waarin kunstenaars optree, kosstalletjies, ’n mallemeule en pretpark, asook ander vermaak vir kinders, ’n babakamer, verskeie uitstallings, kameelritte en ’n pretdraf.

Die fees word aangebied ten bate van volwassenes wat met ’n gestremdheid leef. Een van die programme wat die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging aanbied, is Yonder, die vaardigheids­ontwikkelingsentrum met talle werkswinkels vir die mense.

Ongeveer 260 mense met ’n gestremdheid word daagliks opgelei om in die arbeidsmark geplaas te word.

Reeds meer as 30 mense wat met ’n gestremdheid leef, werk by ondernemings in Kimberley. Die meeste van die mense woon in by Yonder.

Uitstallers wat daarin belangstel om ’n feesstalletjie op te rig, kan meer inligting op die Facebook-blad Yonder Hartsfees kry, of yonderhartsfees.co.za besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article