Wat ’n wonderlike gedagte dat daar weer in Kimberley fees gevier gaan word – die Yonder Hartsfees. Dit is ’n fees wat geld insamel om programme te ontwikkel en te onderhou vir mense wat met ’n gestremdheid leef.

Só vertel Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheids­vereniging, waarvan Yonder deel is.

Die fees begin op Woensdagaand 24 Augustus met ’n openingsgeleentheid onder die kameeldoringbome by Malu-park, wat die feesterrein van die Yonder Hartsfees is. Hier word ’n biefstuk-ete teen R300 per persoon by ’n tafel van tien mense aangebied.

“Ondernemings maak ruim hiervan as ’n bemarkingsgeleentheid gebruik, en baie tafels is al verkoop,” sê Van Zyl.

Al die vertonings van vooraanstaande kunstenaars word teen R200 per vertoning aangebied – dit sluit die toegangsgeld in.

Die kaartjies is op iTickets.co.za beskikbaar.

Op Donderdag 25 Augustus tree plaaslike kunstenaars saam met Snotkop op.

Op Vrydag 26 Augustus tree Loufi, Christia Visser, Heuning en talle plaaslike kunstenaars op.

Op Saterdag 27 Augustus is Leah en Dr Victor die hoogtepunt.

Die spitsvondige Lizz Meiring tree Vrydagaand in die Yonder-saal met haar vertoning Kameras, konserte en kleedkamers op.

Mathys Roets is in die voorprogram.

Tydens die fees is daar heerlike vermaak vir kinders met die mallemeule, springkastele, renstelle (“go-karts”), Ollie die Nar, bulletjierugby, toutrek en talle vertonings deur die dag.

Vir die duur van die fees kan die verskeidenheid kunsmark- en kosstalletjies besoek word.

Die “karnivoorkoning” sal boonop gekroon word. Tydens hierdie kompetisie moet ’n 1 kg-biefstuk van Beefmaster binne ’n bepaalde tyd verorber word.

Die fees gaan nie net oor Yonder nie, sê Van Zyl. Op die Donderdag is daar ’n groot uitreik-aksie na skole met leerlinge met spesiale behoeftes, asook na bejaardes.

Op dié dag word nagenoeg 800 leerlinge genooi om gratis te kom feesvier.

“Moenie die geleentheid mis nie. Sien julle daar,” sê Van Zyl.

Dr Victor

Die mallemeule op die eerste Yonder Hartsfees in 2019. Die mallemeule is vanjaar weer deel van die fees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article