Yonder Hartsfees
Soos vorige jare sal vanjaar se Yonder Hartsfees meer as genoeg pret-aktiwiteite vir kinders aanbied. Foto: Helena Barnard

Vanjaar is ‘n jaar vol verwagtinge by die Yonder Hartsfees wat van Donderdag 4 September tot Sondag 7 September in Kimberley aangebied word. Nie net word dit vir die vyfde keer deur die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidvereniging aangebied nie, maar al die inwoners neem aan een of ander fees-nommer deel om dit so aangenaam as moontlik te maak.

Verlede jaar het 24 000 besoekers die fees besoek, en daar word verwag dat dié getal vanjaar verbygesteek gaan word.

Die Emo Adams-vertoning op 3 September is twee keer uitverkoop. Dit voorspel net goeie nuus vir die programme wat volg:

■ Op 4 September tree Early B en plaaslike talent op. Op 5 September is die Drommedaris Duo op die verhoog, en so ook Spoegwolf.

■ Op 6 September kan die Springbokke se kragmeting teen die All Blacks op die groot skerm geniet word terwyl weggelê word aan ‘n allemintige plaasontbyt. Gelukstrekkings vind tydens die wedstryd plaas met borge soos Beefmaster, The Heights Restaurant, Jet Set Motors en meer. Hiertydens gaan die gelukbringers mekaar vir die beste danspassies uitdaag.

■ Daarna is dit die kragmanne se beurt met hul sterkmankompetisie, en toutrekspanne daag mekaar uit.

Baie verbeteringe is aangebring, onder meer beter toiletgeriewe. Die paaie is deur die Sol Plaatje-munisipaliteit herstel, en die pad onder die treinbrug in Kenilworth-weg nader voltooiing.

Vanjaar word loopbaanuitstallings deur Standard Bank, die Sol Plaatje-universiteit, brandweer, polisie en die rampbestuur aangebied. Natuurlik is die kosstalletjies ‘n wenner.

Die venue van die verhoogkunstenaars, die Haakbosskerm, is verbeter en maak voorsiening vir duisend persone.

Indien jy die fees mis, is dit jou eie skuld. Koop toegangskaartjies op opentickets.co.za en vermy die lang rye.

Terloops, die parkeerarea is intussen vergroot, gereed om feesgangers te ontvang.

Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir meer inligting, en blaai hier deur die program.

Jannie van Zyl, feesdirekteur

You need to be Logged In to leave a comment.