Vanjaar se Yonder Hartsfees vind van 29 Augustus tot 1 September plaas.

Foto: Helena Barnard

Vanjaar se Yonder Hartsfees verower reeds harte met dié feestelikheid wat 09:00 op Donderdag 29 Augustus begin het en tot Sondag 1 September duur.

Tydens dié vierde Yonder Hartsfees kan feesgangers na verskeie geleenthede vir vermaak, aankope en lekker-eet uitsien.

Boonop bied die skaduryke Malu Park-feesterrein langs Hendrik van der Biljstraat in Kimberley ’n ideale kuierplek saam met familie en vriende.

Vertonings vanaf ’n yslike verhoog van 18 m x 6 m wat onder ’n koepel van 10 m hoog in die Haakbosskerm opgestel is, vind deurlopend plaas. By die Yonder oop verhoog vind nog vertonings plaas. Soos voorheen is die pretpark met ritte ’n groot aantrekkingskrag en kinders kan ook in Die Kinderland-speelterrein vermaak vind.

Plaaslike kunstenaars tree Donderdag om 18:00 op, met Francois van Coke om 21:00.

Vrydagaand tree onder andere Zak Steyn en Juan Boucher op. Saterdag tree onder andere Wouter van de Venter met die Hippies Dans Band op, asook The Rockettz New Generation. Sondag tree verskeie gospelgroepe, ook Onbeskaamd, op.

Boeta Gammie en die Rieldansers tree Vrydag en Saterdag om 13:00 op.

Saterdag om 09:00 vind ’n braaikompetisie plaas waarvoor ’n ouer en kind jonger as 12 jaar hulle kan inskryf. Verskeie pryse is op die spel. Die span hoef net ’n braaitang, ’n tafeltjie en stoele saam te bring, en só aan te trek om dalk ’n prys te wen. Skryf vooraf in by mail.yonder@gmail.com.

Die rugbywedstryd tussen die Springbokke en All Blacks is op ’n groot skerm te sien.

Die Plaaskombuis verkoop daagliks tradisionele geregte, en varsgebak is elke dag by Die Spens te koop.

Kaartjies, wat toegang tot die kunstenaarsvertonings insluit, is met kontant of ’n bankkaart by een van die 12 toegange te koop. ’n Gratis heen-en-weer diens vanaf die parkeerterrein tot by die hekke is ook beskikbaar.

Die alternatiewe roete na die terrein, via die duikweg in Kenilworthweg, is begaanbaar. Die feeskomitee bedank die Sol Plaatje-munisipaliteit wat dit in gereedheid gebring het.

  • Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir die volledige program van al die gebeure.

Wen só gratis toegangskaartjies

  • Om in aanmerking te kom om twee gratis toegangskaartjies na die Yonder Hartsfees op Saterdag 31 Augustus te wen, stuur jou naam, van en selfoonnommer na helena.barnard@media24.com vóór of op Vrydag 30 Augustus om 13:00.
  • Vertel ook waarom jy graag die Yonder Hartsfees sal wil bywoon.
  • Wenners sal telefonies in kennis gestel word. 
  • Dié toegangskaartjies verleen ook toegang tot die kunstenaarsoptredes op Saterdag.

You need to be Logged In to leave a comment.