Tydens die Yonder Hartsfees lewer Nicole Neethling van Flour & Oil ’n interaktiewe demonstrasie oor hoe om eg Indiese geregte te berei.

Foto: Verskaf

Vanjaar se Yonder Hartsfees is groter, beter en nog meer kindervriendelik as tevore, en feesgangers kan na vermaak, demonstrasies en kos uit die boonste rakke uitsien.

Dié fees, vanaf Donderdag 29 Augustus tot Sondag 1 September, is ’n geleentheid vir die hele gesin met uiteenlopende aktiwiteite op die program, vertel Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesond­heidsvereniging, waarvan Yonder deel is.

Soos voorheen het die pretpark met mallemeule ’n prominente plek, en waaghalsiges kan hier na nuwe ritte uitsien. ’n “Go-cart”-baan is nuut by Kinderland uitgelê.

By Die Spens kan geesdriftiges interaktief deelneem aan die voormalige prokureur-wat-sjef-geword het – Nicole Neethling van Flour & Oil – se demonstrasies oor hoe om eg Indiese geregte te berei.

’n Kosdemonstrasie deur Malu Pork, ook by Die Spens, demonstreer die veelsydigheid van varkvleis.

Geregte soos skaapstertjies, kaiings, lewer-in-netvet en roosterkoeke sal in Die Plaaskombuis te koop wees, en dan is daar nog die talle kosstalletjies waarby ’n groot verskeidenheid ander klaar-gaar-geregte gekoop kan word.

In groot tente op die boomryke terrein kan feesgangers tussen stalletjies van oor die land heen drentel wat elk eiesoortige produkte verkoop.

’n Gesprek met ekonoom Dawie Roodt en Willem Basson, deur Efficient Wealth, vind ook plaas.

’n Steak-ete, aangebied en voorberei deur Beefmaster, is ’n ideale netwerkgeleentheid vir besighede. Hiertydens tree Wicus van der Merwe – seun van die nimlike Tolla – in die Haakbosskerm op.

Die gospel-orkes, Onbeskaamd, is een van talle groepe wat tydens die fees optree.

Volop parkeerplek met motorwagte sal op die gebied langs die Malupark-feesterrein in Hendrik van der Biljstraat in Kimdustria beskikbaar wees. Van Zyl vertel dat die toegangshekke vir vanjaar se fees vermeerder is om lang rye te verhoed, en kaartmasjiene sal vir die betaling van toegangsgeld beskikbaar wees. Kontant word ook aanvaar.

Toegangsgeld Donderdag tot Saterdag is R100 per volwassene, R60 vir kinders, met gratis toegang vir babas en kinders tot ses jaar oud. Sondag kos dit onderskeidelik R50 en R30.

’n Gesinspakket is ook beskikbaar. Toegangsgeld sluit kunstenaaroptredes in.

Intussen kan inwoners van Kimberley uitkyk vir Hartjie, die gelukbringer van die Yonder Hartsfees, wat oral in die stad sy verskyning maak en gratis koffie uitdeel.

  • Vir meer inligting oor die volledige program, ander kunstenaars wat optree asook tye, besoek Yonder Hartsfees op Facebook.

NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.

You need to be Logged In to leave a comment.