Die voltooiing van ’n kombuis-en-eetsaal-kompleks vir 300 inwoners by die Yonder vaardigheids­ontwikkeling­sentrum vir volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid is een van die doelwitte wat met geldinsameling van vanjaar se Yonder Hartsfees beoog word. Die tweede Yonder Hartsfees word van 25 tot 28 Augustus in Kimberley aangebied.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die voltooiing van ’n kombuis-en-eetsaal-kompleks vir 300 inwoners by die Yonder vaardigheids­ontwikkeling­sentrum vir volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid is een van die doelwitte wat met geldinsameling van vanjaar se Yonder Hartsfees beoog word. Die tweede Yonder Hartsfees word van 25 tot 28 Augustus in Kimberley aangebied.

Ding mee in ’n rolstoel teen die sanger Mathys Roets; bring die kinders vir pretritte op die mallemeule; woon ’n vertoning van Lizz Meiring by; of besoek talle stalletjies op die Yonder Hartsfees, wat eersdaags in Kimberley plaasvind.

“Die tweede Yonder Hartsfees is vir ons ’n belangrike gebeurtenis,” sê Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging.

“Dit is die eerste groot gebeurtenis waarop gesinne weer die geleentheid gegun word om sonder maskers en bewys van inenting opelugteater, vermaak, kunstenaars, heerlike kosstalletjies en kunsmarkte te ervaar,” sê hy.

Van Zyl sê die fees word deur inwoners van Yonder vir die Noord-Kaapse gemeenskap aangebied.

Yonder is ’n vaardigheidsontwikkeling­sentrum vir volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid.

Boonop dien die fees as geldinsameling vir programme wat op die terrein aangebied word.

“Vanjaar het ons begin om ’n kombuis en eetsaal vir 300 inwoners te bou. Ons bou wanneer geld beskikbaar is. Ons hoop om genoeg in te samel om die gebou gouer te voltooi as wat ons verwag.”

Vir die fees, wat van 25 tot 28 Augustus plaasvind, is die parkeerterrein opgeknap, motorwagte is aangestel, die feesterrein is vergroot, grasruimtes is aangeplant en verblyf is vir uitstallers op die terrein beskikbaar.

Dit bied ook ’n veilige omgewing vir kinders om vermaak te geniet. Die omheining is boonop geëlektrifiseerd.

Verskeie kunstenaars tree op, ’n vroueteeparty word onder meer aangebied, en ’n verskeidenheid stalletjies bied hul produkte – van kos tot kuns – te koop aan.

Saans word musiek op verskeie platforms met onder andere Dr Victor, Snotkop, Leah, Loufi, Heuning, Christia Visser, Piet Pompies, Posduif en plaaslike kunstenaars aangebied.

Die sanger Mathys Roets daag ook enigeen uit om teen hom in ’n rolstoel mee te ding.

“Hierdie fees is vir ons by Yonder so belangrik dat ons elkeen persoonlik uitnooi om ons te ondersteun om ’n groot sukses daarvan te maak. Dit is die een geleentheid per jaar wat ons het om geld in te samel,” sê Van Zyl.

yonder

Die Yonder Hartsfees vind van 25 tot 28 Augustus in Kimberley plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article