Vanjaar se Yonder Hartsfees wink, en feesgangers kan hulself gereed maak om dié geleentheid vanaf Donderdag 29 Augustus tot Sondag 1 September by te woon.
Dié fees, ’n ware Yonder-belewenis, word op die Malu-park feesterrein aangebied met volop sit-, kuier- en speelplek onder koeltebome of afdakke.
Benewens reusetente vol uitstallings en stalletjies met ’n verskeidenheid unieke produkte, kan Die Plaaskombuis, Die Spens, kinderland en die speelpark onder meer besoek word. Tydens elke feesdag vind ’n verskeidenheid demonstrasies en opvoerings ook plaas.
Dié fees word ten bate van die Yonder-inwoners, wat daagliks met ’n gestremdheid leef, aangebied. Hulle is boonop op verskeie maniere self aktief by die fees betrokke.
As deel van die fees vind ’n gesprek op Woensdag 28 Augustus om 09:00 met Dawie Roodt en Willem Basson, aangebied deur Efficient Wealth, by die Horseshoe Inn plaas. Kaartjies kos R150 per persoon, en ’n ontbyt word bedien.
‘n Kosdemonstrasie op Donderdag, van 09:00 tot 12:00 deur Malu Pork by die Yonder Spens, is een van vele aktiwiteite wat aangebied word.
Donderdagaand tree Francois van Coke op.
Op Vrydag 30 Augustus om 14:00 demonstreer Nicole Neethling hoe om krakerige samoesas te maak, ’n heerlike Indiese kerriegereg, asook ’n tradisionele Indiese nagereg. Teen R250 per kaartjie sluit dit die kooklesse in, asook al die bestanddele om dié geregte te maak.
’n Skoonheidskompetisie vind ook op dié dag plaas, en talle pryse is op die spel. Geen modelondervinding is nodig om deel te neem nie.
Vrydag, vanaf 18:00, tree Zak Steyn, Gage, M&M, Saarkie en Juan Boucher op.
Saterdag om 08:00 vind ’n 5 km-pretdraf plaas. Volwassenes betaal R60 per deelname, en kinders onder 16 jaar R40. Die inskryfgeld vir die pretdraf verseker deelnemers toegang tot die fees vir die dag.
Saterdag om 09:30 vind ’n vroueoggend plaas met klaviersensasie Rocco de Villiers en Charné Cronjé van Kimberley, ’n Mev. Heelal-semifinalis.
Saterdag van 18:00 af tree vermaaklikheidskunstenaars soos Zak Steyn, Ivan Roux, Adam, Die Hippies Dans Band en The Rockettz New Generation op.
Op Sondag 1 September om 12:00 vind ’n gospelvertoning met Onbeskaamd plaas.
Toegangsgeld van Donderdag tot Saterdag is R100 per volwassene, R60 vir kinders, en jongelinge tot ses jaar oud het gratis toegang. Sondag betaal volwassenes R50 en kinders R30, met gratis toegang vir kinders tot ses jaar oud.
Dié toegangsgeld dek ook bywoning van die optredes van die kunstenaars op die fees. Gerieflike parkering is naby die hekke beskikbaar.
Die kaartjies is by die hekke van die feesterrein by Malu Park in Hendrik van der Bijl-straat in Kimdustria te koop. Kontant en bankkaarte word aanvaar.
Dié toegangsgeld dek ook bywoning van die optredes van die kunstenaars op die fees. Gerieflike parkering is naby die hekke beskikbaar.
- Besoek die Facebook-blad Yonder Hartsfees om meer van die verskillende aktiwiteite en opvoerings – met iets vir elke smaak – uit te vind, of skakel 053-110-0260.
- NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.


