Vanjaar se Yonder Hartsfees, van 29 Augustus tot 1 September, bars uit sy nate en die organiseerders moet wikkel om by te bly.
Die eerste fees is deur sowat 8 000 besoekers bygewoon en die organiseerders was opgewonde oor dié aantal mense wat die moeite gedoen het om hiervoor saam te trek. Dit het hulle gemotiveer om weer die volgende jaar ’n fees aan te bied.
Maar Covid-19 het toegeslaan, en die pandemie het langer aangehou as wat almal gedink het. Tog het die organiseerders moed gehou en geglo dat die gety sou draai. Dit het gebeur, en die hoofborge van die fees is oorreed om dit steeds geldelik te ondersteun. Sedertdien is twee feeste aangebied – met 23 000 besoekers by verlede jaar se fees.
Geen moeite is ontsien om die beste na Kimberley te bring nie, want inwoners van die stad en omstreke verdien dit.
Kinderland is ’n nuutjie en word as ’n permanente speelterrein vir kinders ontwikkel.
Vanjaar bring die mallemeulepark ’n nuwe toevoeging tot die swaaie, en dié ruimte is daarvoor vergroot.
Nog ’n interessante toevoeging is Die Plaaskombuis, wat eg tradisionele geregte bedien, soos skaapstertjies, lewer-en-netvet, kaiings en krummelpap, vars gebakte brood en konfyt, roosterkoeke, botter en skaapvet, gebakte eiers en boerewors.
Dit word deur die boeregemeenskap van Keimoes berei. Elke dag word ’n ander potgereg voorgesit, en die braaivleis bly ook ’n wenner.
Deeglike beplanning het plaasgevind om aan die meeste besoekers se verwagtinge te voldoen.
Só gaan Rocco de Villiers demonstreer hoe om van sy bekende skemerkelkies te berei, én hy bring sy klavier saam.
Alwina van Zyl van Malu Pork deel haar koservaring, en Nicole Neethling van die Kaap bied ’n kursus aan oor hoe om eg Indiese geregte voor te berei.
Ouers en kinders word vir ’n braaikompetisie genooi waar die span uit ’n ouer en ’n kind, van 12 jaar en jonger, bestaan. Inskryfgeld is R100 per span. ’n Braaipak met ’n tjop, wors, sosatie, skilpadjie, deeg vir roosterkoek, speserye en vuurmaakgoed word verskaf, en deelnemers bring slegs ’n braaitang. Groot pryse is op die spel. Vir die inskryfvorm en reëls, stuur ’n e-pos na mail.yonder@gmail.com.
Op Saterdag 31 Augustus word die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op die grootskerm tydens ’n “happy hour” vertoon.
Ondersteun die Yonder Hartsfees ten bate van die persoon wat met ’n gestremdheid leef.
Ons sien uit om jou daar te sien.
– Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging
Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir meer inligting.
NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.


