Afrikaans vier op Donderdag 8 Mei sy eeufees as amptelike taal. Dié taal, in al sy vorme, is veel ouer as 100 jaar, maar op 8 Mei 1925 het dit, naas Engels, een van Suid-Afrika se amptelike tale geword.
Ná 1994 het dit daardie status behou en is een van die jongste wêreldtale.
Afrikaans Amptelik 100 vier dié mylpaal; maar Afrikaans se komvandaan strek na die 1500’s met haar eerste klanke deur Khoi-voorouers geskep wat in die kombuis as ‘n omgangstaal moes dien.
Dié taal groei van hier tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skrif in die Bo-Kaap opgeteken word. Sy voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap.
Dié taal is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land, naas Zulu (24,4%) en Xhosa (16,3%), met meer as 6,5 miljoen moedertaalsprekers in die land.
“Afrikaans is sag soos ‘n vrou. Afrikaans kan ook hard wees soos ‘n grondpad. Afrikaans is ons ma en ook ons kinders. Afrikaans is Hollands bruingebrand deur die Afrikason, gesnoei en vaartbelyn gemaak deur jare van sensuur en swaarkry.”
Koos Kombuis
Dit is ‘n taal wat steeds groei, skep en blom in al sy diversiteit. Afrikaans is inklusief en vriendelik, mededeelsaam en almal se taal wat hom praat.
Die Afrikaans 100-fees neem op 8 Mei ‘n aanvang in Kaapstad, en verskeie feesvieringe vind oor die land heen plaas. Besoek Afrikaans 100 op Facebook vir meer inligting.
Wyse woorde uit kinderdae
NoordkaapBulletin het sy vyf gereelde rubriekskrywers gevra wat hul gunstelingwoorde in Afrikaans is. Hulle is ook gevra wat ‘n uitdrukking is wat hulle as kind gereeld van ‘n volwassene gehoor het, en dit nou self gebruik.
Hier is hul antwoorde:
Hannes Noëth:
Kerrie, skaaptjoppies, braaivleisvuur;
“Vorentoe… altyd vorentoe.”
Charné Kemp:
Vort, ploert;
“Vele hande maak ligte werk.”
Karin Muller:
Fieterjasies, kekerertjies;
“Die liefde is blind, sien flinters aan vir lint.”
Gerda-Marié van Rooyen:
Allamapstieks, tjoeftjaf;
“Erger as kop af kan dit nie.”
Ds. Kobus van Tonder:
Uit sy bedieningsveld: deernis, barmhartigheid.
Hy sê dit bly interessant hoe ons goggas sulke beskrywende name kan gee, bv. toktokkie, bidsprinkaan en klipgeitjie (na aanleiding van die geluid wat hy maak wat klink soos klippies wat op mekaar gekap word).
Die uitdrukking wat hy onthou is wanneer hulle vir hul ma gevra het: “Wat eet ons vanaand?” het sy altyd geantwoord: “Kaas en brood en water uit die sloot.”
