Lewende Water: Sorg vir dit wat nie joune is nie

Dit is interessant dat Jesus dikwels geld en rykdom as beeld gebruik het om sekere lewensbeginsels aan mense oor te dra. Dalk omdat alle mense met geld, of die gebrek daaraan, kan identifiseer.


Dit is interessant dat Jesus dikwels geld en rykdom as beeld gebruik het om sekere lewensbeginsels aan mense oor te dra. Dalk omdat alle mense met geld, of die gebrek daaraan, kan identifiseer.

Baie gelowiges raak ontsteld as hul dominee oor rentmeesterskap preek. Hulle meen dalk die kerk moet nie “behep wees” met geld nie, maar op ander sake, soos die liefde, fokus. Wat ons nie besef nie, is dat die manier waarop ons met geld omgaan, geweldig baie sê van hoe ons die liefde verstaan.

Ons finansiële keuses is ’n direkte weerspieëling van ons diepste waardes, oortuigings en geloof. Iemand het gesê: Rentmeesterskap is alles wat ek doen nadat ek gesê het, “Ek glo”. Jesus het dit so gestel: Waar jou skat is, daar sal jou hart wees (Mattheus 6:21).

Ons hanteer die wêreld asof dit aan ons behoort en ons neem daaruit alles wat ons kan. Ons hanteer die bronne wat die aarde bied op ’n kortsigtige manier en dink nie verder as ons eie leeftyd nie.

Ons begryp nie ons bevoorregting nie. Ons ontvang die wêreld onverdiend van God. God gee ons die kans om Hom terug lief te hê deur dit wat aan ons toevertrou is, met liefde te versorg.

Dít is ware rentmeesterskap: om te sorg vir iets wat nie aan ons behoort nie. God wil hê ons moet ons tyd, ons gawes en ons besittings gebruik om goed te doen, om vreugde te bring.

Ons ontvang ons gawes (verstand, gees, persoonlikheid) en die rou materiaal waarmee ons hier op aarde woeker, sonder verdienste. Ons opdrag is om dit te ontwikkel en te gebruik tot voordeel van onsself, ons naaste en die omgewing.

Rentmeesterskap is ’n uitdrukking van die soort dissipels wat ons is, en ware dissipels het God en hul naaste lief. Hoe ons, ons rentmeesterskap toepas om ’n plaaslike gemeente te ondersteun is deel van dit, maar nie die volledige betekenis van rentmeesterskap nie.

Christelike rentmeesterskap beklemtoon ’n lewe van oorvloed en nie tekort nie.

You need to be Logged In to leave a comment.