Wys geloof met jou dade

Iemand vra jou: Verduidelik vir my die pad na verlossing?.


Iemand vra jou: Verduidelik vir my die pad na verlossing?

Hoe sal jy dit doen? (Wenk: wees versigtig om geloof nie net tot ’n innerlike oortuiging te vervlak nie.)

Wanneer Lukas vertel van die mense (die skares, tollenaars en soldate) wat na Johannes die Doper en Jesus se beskrywing van die komende koninkryk van God geluister het, vra hulle telkens: “Wat moet ons doen om deel daarvan te wees?”

Johannes antwoord dan: deel kos en besittings, moenie te veel belasting invorder nie, moenie mense afpers nie, moenie mense vals aankla nie, en moet ook nie kla oor julle lone nie.

Wanneer ’n wetsgeleerde asook ’n maghebber dieselfde vraag aan Jesus vra, antwoord Hy: Moenie die pad van wetsonderhouding volg nie, maar probeer eerder die pad van geloof. Geloof in God veronderstel ’n lewe in ooreenstemming met God se wil.

Jesus vertel ook nog twee gelykenisse oor mense wat soekend is na die Koninkryk van God, die een is ’n ryk man met sy oorvloed en die ander ’n oneerlike bestuurder wat ontslag in die gesig staar. Albei wil weet wat hulle moet doen om die Koninkryk te beërwe.

Die eerste storie vertel van ’n ryk man wat opgaar en word ’n dwaas genoem, en die tweede vertel van die oneerlike bestuurder wat geprys word vir sy verstandige optrede deurdat hy diegene wat aan sy eienaar iets skuld, se skuld verlig het. In albei gevalle is die manier hoe welvaart hanteer is, deurslaggewend in hoe hul gedrag beoordeel word.

Dit klop met Lukas se klem dat God se genade gelowiges onder die verpligting plaas om genade aan ander te betoon. Geloof is die dankbare ontvangs van God se genade sowel as die daadwerklike uitleef daarvan. Dit is dus nie net ’n innerlike oortuiging en persoonlike saak nie. Dit vra om konkrete optrede in die alledaagse maatskaplik-ekonomiese wêreld wat ander se nood verlig.

Hoe verduidelik jy vir mense die pad na verlossing? Jy verduidelik dit nie, jy wys dit.

You need to be Logged In to leave a comment.