Wyle regter Yvonne Mokgoro. Foto: Argief
Wyle regter Yvonne Mokgoro. Foto: Argief

Die lewensmaat van die afgetrede grondwetlike hof-regter Yvonne Mokgoro wat aangekla word dat hy as motorbestuurder haar dood veroorsaak het in ‘n botsing met ‘n vragmotor, se verhoor is verlede week voortgesit met die getuienis van ‘n forensiese kenner oor wat daardie aand kon gebeur het.

David Mmelesi word van strafbare manslag aangekla ná die ongeluk op die N12-roete noord van Kimberley waarin hy en Mokgoro op 3 April 2023 omstreeks 20:00 betrokke was. Hulle was onderweg na Kimberley toe hy na bewering in hul Mercedes-voertuig teen ‘n vragmotor gebots het.

Mokgoro, wat reeds afgetree was, is ernstig beseer.  Sy is op 9 Mei 2024 weens haar beserings oorlede. Ná haar dood het landsvlae halfstok gehang en het sy ‘n kategorie een amptelike begrafnis gehad waar oudhoofregter Raymond Zondo en president Cyril Ramaphosa haar lof besing het.

Mmelesi het op Woensdag 20 Augustus in sy verweer aangevoer dat hy gedink het hy sien ‘n mens in die noodbaan lê waarna hy ‘n U-draai gemaak het. Hy wou toe weer ‘n U-draai maak. In sy verklaring sê hy hy het gewag vir die verbygaande verkeer toe die vragmotor teen hulle bots. Toe hy na sy lewensmaat kyk het haar kop vooroor gehang. Hy het haar probeer stut.

Darryl Strydom, ‘n private forensiese ondersoeker wat hom op verkeersongelukke toespits, het getuig Mmelesi het verskillende weergawes aan polisielede gegee. Strydom het ook getuig dat die bestuurders van albei voertuie die blaam kan dra.

‘Parkeerligte was aan; geen flikkerlig’

Ene mnr. Du Plessis, die bestuurder van die vragmotor, het in sy verklaring aangevoer dat hy en sy vrou op die N12 noordwaarts vanaf Kimberley na Warrenton gery het. Die pad was reguit en dit was donker. Sy sleepwa was vol gelaai met 15 ton lusernsaad. Hy het teen 80km/h gery. Voor in die pad kon hy die Mercedes-Benz in die linkerkantse noodbaan sien. Net die parkeerligte was aan, met geen flikkerligte wat aangeskakel was nie. Sy vrou wat langs hom gesit het, het ook daarop gewys. Du Plessis  het sy kolligte (spotlights) aangesit om die voertuigbestuurder te waarsku. Skielik het die Mercedes-Benz voor hom ingedraai, en hy kon niks doen om die botsing te vermy nie.

Sy vragmotor het die Mercedes-Benz meer as 30 m vorentoe gedruk. Weens die botsing is die vragmotor se bosbreker aan die linkerkant gebuig en van die kolligte beskadig.

Die meeste skade aan die Mercedes-Benz was tussen die twee regterkantse wiele, en die groot skade net voor die agterwiel dui daarop dat die voertuig gekantel was. Dié voertuig het nie reguit in die noodbaan gestaan nie, en van die wiele was oor die geelstreep in die rybaan toe die botsing plaasvind. As die voertuig loodreg in die noodbaan gestaan het, sou die vragmotor dit van die pad gestamp het.

Strydom meen Du Plessis kon sy spoed verminder het, sy toeter gebruik en ligte geflikker het.

Senioraanklaer TB Namisa kla aan. Adv. Marcus Mafaro tree vir Mmelesi op.

Die verhoor voor streeklanddros Cordelia Kgopa duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.