Dr. Wouter Basson
Dr. Wouter Basson. FOTO: Charné Kemp

Geloftefeesgangers by die Perdeberg Boerevereniging se jaarlikse viering het Dinsdag 16 Desember in ‘n toespraak deur dr. Wouter Basson gehoor hoe lewenslesse en sterk geloof in hulself en die Opperwese stres kan oorwin.

Basson, ‘n kardioloog in Durbanville, was tydens die Grensoorlog die hoof van biologiese en chemiese oorlogvoering in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag. In 1999 het hy op 67 aanklagte tereggestaan, insluitend moord, sameswering tot moord, dwelmhandel en bedrog weens sy betrokkenheid by Projek Coast, die apartheidregering se geheime chemiese en biologiese wapenprogram. In April 2002 is hy in die Hooggeregshof in Pretoria op alle aanklagte vrygespreek.

Die vlae van die destydse Vrystaatse en Zuid-Afrikaansche Republieke word voor die Perdeberg Voortrekkermonument gehys terwyl dr. Wouter Basson dr. Louis Bothma en stafsersant Hans Nel op aandag staan. FOTO: Charné Kemp

In 2007 het die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) van Suid-Afrika ‘n etiese ondersoek begin en is Basson in Desember 2013 aan onetiese en onprofessionele gedrag skuldig bevind. Basson het in 2019 ‘n suksesvolle aansoek gebring dat ván die komitee se lede herroep word weens hul beweerde vooroordeel.

In Junie 2025 het die RGB opnuut probeer om met die tugproses voort te gaan, maar Basson het ‘n hofaansoek gebring vir ‘n interdik om die verrigtinge permanent te stop. Hy voer aan dat sy grondwetlike regte geskend word weens onredelike vertragings.

Lewenslesse uit konflik

In sy toespraak by die Geloftedagviering, tussen Kimberley en Bloemfontein, het hy dit as “33 jaar van stres” beskryf, ‘n tydperk waarin hy lewenslesse geleer het oor hoe om stres en konflik te hanteer. Sy kernboodskap is dat uitdagings nie net oor oorlewing gaan nie, maar persoonlike groei en ontwikkeling meebring.

Hy gebruik Kersfees in die winter as analogie vir moeilike tye. Storms ontwikkel ‘n mens om aanpasbaar te wees. Reën bring lewe en wedergeboorte. Die wind waai ou, dooie dinge weg om plek te maak vir nuwe begin. Die koue lei tot die ontdekking van interne warmte en gemeensaamheid met naastes. Winter is dus ‘n tyd vir beplanning, oorlewing en groei.

Basson beklemtoon dat die mens in sy omgewing sentraal staan om oplossings te vind. “Jy moet jou eie konflik bestuur, veral wanneer dit regtig sleg gaan. Hoewel jou geliefdes jou ondersteun, is dit steeds net jy wat die opposisiepartye moet uitknikker.”

Praktiese strategieë

Basson sê gesondheid, voorkoms, fiksheid, verstandelike en intellektuele vermoë, sielkundige gesondheid en geloof is noodsaaklik vir suksesvolle konflikhantering. Fiksheid verbeter breinkrag en fisiese uithouvermoë wat tot emosionele gesondheid bydra.

Tydens die hofsaak was hy 40 dae in die getuiebank. Een aand het hy ‘n gimnasium gesien wat tot middernag oop is. Hy het toe saans begin oefen en soggens geswem. “Ek het nie net fisiek nie, maar ook geestelik sterk geword. Deel van my verdediging was uithouvermoë.”

As geneesheer word hy moedeloos wanneer pasiënte sê hulle het nie tyd om te oefen nie. “Jy kan nie net aangaan en aangaan en wag dat jou liggaam breek en dan hulp soek nie.”

Hy adviseer mense om verstandelike, intellektuele en kennis op te skerp.

“Moenie probleme heeltyd herkou nie. Leer nuwe dinge, kry nuwe feite, perspektiewe en ontmoet nuwe mense om jou denkpatrone te verander.”

Te midde van die hofsaak het Basson vir ‘n B. Com-graad studeer, wat sy denkwyse dramaties vernuwe het. “Die hofrekord het sowat 14 000 bladsye beslaan. Ek moes daardie feite ken sodat ek veral in kruisondervraging op die voorvoet kon bly. Vergifnis en kennis help om die opposisie te verras en beheer te neem van jou eie situasie.”

‘n Mens moet streef na emosionele volwassenheid. “Moenie impulsief op emosies reageer nie, want jy kan brûe verbrand. Kweek selfwaarde en wees minder selfkrities. Maak vrede met wie jy is, en onthou halsstarrigheid is jou grootste vyand.”

Hy beklemtoon dat aanpasbaarheid uiters belangrik vir oorlewing en groei is. “Een van my moeilikste lesse was om empatie met die opposisie te hê. Wraak en haat gaan jou nêrens bring nie. Deur vriendelik te wees, al is dit hoe moeilik, bemagtig jy jouself.”

Dr. Louis Bothma met stafsersant Hans Nel agter hom. FOTO: Charné Kemp

Ondanks alles, moet jy dankbaar bly. “Genade voed jou. Tree waardig en met integriteit op. Jy moet ‘n diepe vertroue in jouself kweek om twyfel en onsekerheid te verdryf.”

Eerlike kommunikasie met almal om ‘n mens kweek vertroue en verminder stres. “Moenie jou mense en kollegas uitsluit nie.”

Hy sê grappenderwys dat kontantvloei-probleme meer hartaanvalle veroorsaak as hoë bloeddruk en cholesterol.

“Deur diegene om jou te betrek en wedersydse verwagtinge te bespreek, bied hulle ook oplossings vir probleme. Wanneer jy beheer op verskeie vlakke neem, groei jy in so ‘n mate dat jy moeilike lewensomstandighede heelwat kan oorkom.”

Geloftefees jaarliks aangebied

Die Boerevereniging se Erfeniskomitee bied jaarliks ʼn Geloftefees-geleentheid op 16 Desember in hul saal neffens die Modderrivier aan, waarheen bekende sprekers genooi word. Andersins hou dié Erfeniskomitee ook plaaslike slagvelde en monumente in stand.

LEES OOK: Geloftedag: ‘Afrikaners moet geskiedenislesse leer en koester’

Die Gelofte word by die geleentheid voorgelees en die vlae van die Boererepublieke by die Perdeberg Voortrekkermonument gehys. Dit word deur ‘n Spesmag-aand in Petrusburg voorafgegaan waar militêre veterane soos Basson, dr. Louis Bothma van 32 Bataljon, en stafkommandant Hans Nel vanjaar oor hul ervaring en lewenslesse in die Grensoorlog gepraat het.

Na afloop van die erediens deur ds. Hennie Briel en Rolin Odendal se praatjie oor Afrikaans se 100ste verjaardag, het Bothma ‘n lesing oor die Slag van Paardeberg in Februarie 1900 by die slagveld gelewer. Daarna het feesgangers melktert en gemmerbier by die De Wet Museum op die plaas Oskoppies geniet.

Die vlae van die ou Boererepublieke word by die Perdeberg Voortrekkermonument gehys wyl die feesgangers op aandag staan. FOTO: Charné Kemp

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article