In vanjaar se Wolbom-projek wat die afgelope skoolvakansie in Fraserburg gehou is, het kinders en deelnemers vir die eerste geleer om met weefringe (“looms”) te brei en hekel, benewens met brei- en hekelpenne.
Die projek is soos verlede jaar in die munisipale tuin aangebied waar mense ook vlugbal en sokker kon speel, sê Desiré Cloete, organiseerder.
“Die weefring lyk soos tolletjiebrei op ’n groter skaal, en is makliker omdat jy nie steke so maklik van die breipen kan verloor nie.”
Die projekdoel is om nuwe vaardighede en geleenthede aan mense uit arm gemeenskappe te bied wat aan dwelmmisbruik, tienerswangerskap en ander maatskaplike euwels blootgestel is.
Vir die projek maak hulle staat op skenkings van wol en ou kledingstukke wat hergebruik word.
Sy sê dit is ironies dat daar nie eens ’n wolwinkel in die dorp is nie soos jare gelede nie.
“Ons land kan nie net wol uitvoer nie, ons moet dit weer self kam, spin, weef en klere maak.”
Vanjaar het deelnemers kledingstukke gemaak wat geskenk is aan meer as 20 studente van die Universiteit Stellenbosch wat deel is van die Atlete vir Christus-projek van die Kruiskerk-gemeente. Hulle het 2 000 km van Williston tot in Stilbaai gehardloop om uitreik-aksies in gemeenskappe te doen, saam te sing en geld vir Bybelstudiegidse in gevangenisse in te samel.
Cloete sê plaaslike kinders het hierdeur geleer om aan ander te gee.
“Om te brei of hekel is veel meer as net handwerk. Terwyl grootmense en kinders saam brei en hekel raak hulle aan die gesels, en maak hulle nuwe vriende. Hul selfvertoue word opgebou, want hulle vermag iets. Van die kinders het van hul produkte verkoop.
“Dit was wonderlik vir hulle om te besef hulle hoef nie te bedel nie, hulle kan ’n bestaan maak deur unieke produkte te verkoop. Een van die meisies het nadat sy haar kledingstuk verkoop het, nog wol gekoop om nog kledingstukke te maak.”
“Kinders met fetale alkoholsindroom wat intellektueel gestrem is, baat veral. Hul vaardighede en konsentrasievermoë het volgens medeonderwysers met wie ek gesels het, verbeter.”
Cloete sê die Wolbom-projek sal moontlik ook in aanliggende dorpe posvat waar onderwysers en vrywilligers soortgelyke veldtogte sal begin om gemeenskappe met vaardighede en nuutverworwe selfvertroue te bemagtig.





