Bangladesjiese winkeleienaars van Kimberley is erg ontsteld nadat nog een van hul winkels, dié keer Sondagaand (03/10) in die De Beers-woonbuurt, deur vier gewapende mans beroof is.
Die rooftog kom ’n week nadat Mnowar Jahid (28), ’n Bangladesjiese winkeleienaar van Ritchie, in ’n rooftog voor sy vrou, Monique, en hul 11 maande oue babadogtertjie doodgeskiet is.
Sers. Dikeledi Gopane, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Zam Zam-kafee in De Beers Sondag omstreeks 19:30 deur vier gewapende en ongeïdentifiseerde mans beroof is.
“Die mans het die kafee binnegekom en die winkelassistent met ’n wapen gedreig,” sê Gopane.
Sy sê een van die rowers het oor die toonbank gespring en R15 000 in ’n houer gebuit. Die rowers het ook twee selfone van R5 000 gebuit.
Die winkelassistent (21), wat anoniem wil bly, was ná die voorval so geskok dat sy broer namens hom vir die polisie moes kom tolk.
Een van die Bangladesjiese winkeleienaars, Shagor Bhagina, wat hom kort ná die voorval na die toneel gehaas het, het gesê hulle moes die assistent suikerwater ingee.
“Een van sy klante was ook in die winkel toe die rooftog gebeur het.”
Hy sê die rowers het, nadat hulle die winkel binnegekom het, die staal-glydeur toegetrek sodat verbygangers nie kon sien wat aangaan nie. Bhagina besit drie winkels in Kimberley en vrees vir sy personeel en sy klante se lewe.
“Dit voel asof ons daagliks in rowers se visier is en asof die polisie ons nie werklik bystaan nie.”
Hy sê baie Bangladesjiese winkeleienaars is nou al so radeloos dat hulle nie eens meer die moeite doen om die polisie te ontbied of sake aan te meld nie. Daar is glo Sondagaand ook ’n winkel in Galeshewe beroof, maar dié polisiekantoor kon nie die voorval bevestig nie.
Die Bangladesjiese winkeleienaars sê wat met Jahid in Ritchie gebeur het, is absoluut onvergeeflik. “Hy het nie die rowers probeer teengaan nie en het hul opdragte nagekom. Was dit werklik nodig dat hulle hom voor sy vrou en dogtertjie moes skiet? Hulle kon maar net die geld gevat het,” het een Sondagaand buite die winkel opgemerk.
Jahid se oorskot is verlede Woensdag na Bangladesj gestuur.