Teen Maandag (10/10) het verwoestende brande al ’n vyfde dag in groot dele van die Noord-Kaap gewoed, aangejaag deur ’n sterk wind.

Foto: Verskaf

Sterk wind wat die hele naweek, asook Maandag en Dinsdag, in die Noord-Kaap woed, jaag die brande aan.

Terwyl uitgebreide brande Maandag (10/10) ’n vyfde dag in die Noord-Kaap gewoed het, is gevrees dat dit ook huise in Daniëlskuil in gevaar kon stel.

Meer as 100 000 ha se weiveld was in daardie stadium reeds verwoes.

Die R31-roete tussen Kimberley en Daniëlskuil is Dinsdag vir verkeer gesluit weens die gevaarlike veldbrande wat buite beheer woed. Motoriste is versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Willie Aucamp, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in die Kalahari, het Maandag vroegmiddag gesê verkeersbeamptes probeer keer dat motoriste dié pad gebruik omdat dit weerskante van die pad brand en rookwolke sigbaarheid belemmer.

Benewens vrese oor huise in Daniëlskuil, het die brand ook na die ooste in die rigting van Koopmansfontein versprei.

Twee vliegtuie is Maandag ingespan om die brand te probeer blus. Talle boere, hul werkers en brand­bestrydingspanne van verskillende organisasies het toe steeds onverpoos die vlamme probeer blus. Emosionele, moeë boere het gesê hulle sal dringend veevoer moet kry.

Mase Manopole, Noord-Kaapse LUR vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Maandag veevoer uit die regering se voerbanke aan die boere beloof.

Sy het ook gesê dit was haar departement wat Maandag die twee vliegtuie beskikbaar gestel het.

Braam van der Westhuizen, DA-raadslid van die Ga-Sego­nyana-munisipaliteit (Kuruman), het gesê “die vuur hardloop met ’n spoed” te midde van sterk wind.

Jan Joubert van die plase Happy Valley en Fair View tussen Kuruman en Daniëlskuil het gesê hy voel oorweldig deur die uitwerking van die ramp. Volgens hom is die brand deur weerlig veroorsaak.

“Daar sal dringend veevoer gekry moet word, of alternatiewe weiding vir ons diere totdat dit reën en die veld herstel het.”

Hy sê boere het ook pale, drade en pypleidings verloor. Joubert het 85% van sy weiveld verloor.

“Ons is baie dankbaar teenoor inwoners van dorpe wat hul lewe in gevaar kom stel het om ons te help en ook water en koeldranke aangery het. Ons is dankbaar vir die rampbestuurspan van Johan Rossouw van Kuruman, die weermag en die vliegtuie en Atlas Oryx-helikopter wat gereël is.”

Franco Joubert, nog ’n boer, het sowat 600 ha van sy weiveld op sy plaas Paradys verloor, terwyl sy plaas Glendale se weiveld heeltemal afgebrand het. Driekwart van die weiding op sy plaas Korrelkop is daarmee heen.

Lettie van Zyl (67), ’n boervrou in die Kuruman-omgewing, sê die weiveld op vyf van haar plase het feitlik heeltemal afgebrand.

“Ons is boere en aanvaar ’n ding soos wat dit gebeur. Met die hulp van bo sal ons weer opstaan en saamstaan.”
Lettie van Zyl

“Dit is dieselfde gebied waar laasjaar groot brandskade was, en die boere moet nou vir die tweede agtereenvolgende jaar die brande trotseer,” sê Aucamp.

Hy bedank boere, organisasies en individue vir hul hulp, asook die Gamagara-munisipaliteit en die John Taolo Gaetsewe-distriks­munisipaliteit. Hy sê daar sal met dr. Zamani Saul, die premier, gesprek gevoer word om ’n provinsiale rampgebied te verklaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article