Wildeklawer: Sportskouspel keer terug

Die beste spanne van 85 skole van oor die land heen gaan aan die einde van die maand vir die Absa Wildeklawer-sporttoernooi in Kimberley saamtrek.

Absa Wildeklawer Skolesportnooi

Die beste spanne van 85 skole van oor die land heen gaan aan die einde van die maand vir die Absa Wildeklawer-sporttoernooi in Kimberley saamtrek.

Tydens dié toernooi, die grootste van sy soort in Afrika, sal 182 spanne kragte meet, sê Cassie Carstens, bedryfsbestuurder.

Carstens sê ná twee jaar se onderbreking weens die Covid-19-pandemie word die toernooi weer gehou, en ’n verwagte 4 239 deelnemers en beamptes kom hiervoor uit alle provinsies na Kimberley.

“Ons het die eerste keer ’n sokkertoernooi by die rugby- en netbal­toernooi gevoeg.

“Ons sien uit na die blootstelling wat spelers op dié vlak gaan kry. Sokker sal in die toekoms ’n groter rol in die toernooi speel.”

Gastehuise, hotelle en oornagverblyfplekke is glo reeds volbespreek, en ondersteuners en ouers sal in dorpe so ver soos Warrenton, Windsorton, Douglas, Christiana en nabygeleë dorpe verblyf bekom.

“Absa het die naamregte vir dié toernooi bekom en ons is baie opgewonde om die maatskappy vanjaar weer betrokke te hê. Wildeklawer is trots om met Absa vereen­selwig te word.”

Tydens die toernooi sal Absa Wildeklawer en die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) ’n impakstudie oor die ekonomiese inspuiting van die toernooi in Kimberley en die Noord-Kaap doen.

Die hooftoernooi het vier afdelings:

  • laerskole pak mekaar van 24 tot 27 April by die Laer­skool Newton – dit sluit die o.13-uitnodigingstoernooi in;
  • die o.19-uitnodigings­toernooi vir rugby en netbal is van 28 tot 30 April by die Hoërskool Diamantveld;
  • die seniortoernooi word van 29 April tot 2 Mei by die Hoërskool Diamantveld beslis – dit sluit o.19-rugby- en netbalspanne in, en spanne in die o.14-, o.15- en o.16-ouderdomsgroepe; en
  • die o.19-sokkertoernooi word op 30 April en 2 Mei by die Kimberley Boys’ High School gespeel.

Besoek wildeklawer.com of Wildeklawer Sport op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.