Wild en wakker fees aangebied

’n Nuutjie wag op smulpape wanneer die De Oude Kraal-landgoed in die Bloemfontein-omgewing en Sentraal24 kragte saamsnoer om ’n wildskosfees van ’n ander aard aan besoekers te bied.


Blesbokblad

Geroosterde, ontbeende blesbokblad

’n Nuutjie wag op smulpape wanneer die De Oude Kraal-landgoed in die Bloemfontein-omgewing en Sentraal24 kragte saamsnoer om ’n wildskosfees van ’n ander aard aan besoekers te bied.

Die fees, nou bekend as die WildsKOS-Gourmetfees, gaan op twee geleenthede – een in Junie en een in Julie – aangebied word om met Covid-19-regulasies in pas te bly.

Wat dié geleenthede van vorige feeste sal onderskei, is dat Marie Lombard, eienaar en voorslagsjef van die De Oude Kraal-landgoed, van die wildsvleis met die landgoedwyne gaan pas. Besoekers wat deur die jare De Oude Kraal se gewilde kos-en-wyn-aande bygewoon het, sal weet dat Marie ’n baie fyn aanvoeling het vir hoe smake mekaar aanvul.

Geregte met wildsvleis soos blesbok, springbok, waterbok, koedoe en krokodil sal soos gewoonlik beskikbaar wees, maar vanjaar sal daar ook skaap-, bees-, vark- en hoendergeregte wees.

“Besoekers sal by die wyn­stalletjie ’n aanduiding kan kry van watter vleis- of ander gereg by ’n spesifieke wyn gaan pas,” sê Marie-Louise Nel, bestuurder van De Oude Kraal.

Die eerste geleentheid word op Saterdag 12 Junie gehou, waarop 11 landgoedere met ses wyne elk verteenwoordig sal wees, met unieke geregte en wildsoorte. Wynmakers sal na die fees kom om besoekers van die wyn te vertel en die wyn sal ook te koop aangebied word.

Die tweede geleentheid word vir Saterdag 3 Julie beplan, waar 12 ander wynlandgoedere verteenwoordig sal word. Daar is net 500 kaartjies per geleentheid beskikbaar.

’n Bonus in aanloop tot die fees is resepte wat Marie en haar span met lesers op NoordkaapBulletin se landingsblad op Netwerk24 deel. Die blad is gratis op Netwerk24 onder streeksnuus te sien.

Die eerste resep – vir geroosterde, ontbeende blesbokblad – volg hier onder. 

Kaartjies, by De Oude Kraal beskikbaar, kos R550. Voorskoolse kinders kry gratis toegang, laerskoolkinders betaal R100 en hoërskoolkinders R250. 

Rig navrae deur 051-564-0733 of 071-679-6596 te skakel.

Geroosterde, ontbeende blesbokblad

Jy benodig:

50 g roosmaryn

50 g pietersielie

20 g mentblare

250 g botter of olyfolie

knoffel

vinkelsaad/granaat/sesamsaad/komyn

ansjovis-filette – fyngekap

fyn suurlemoenskil

gemaalde sout en swart peper, wit peper en braaispeserye

Metode:

Kap kruie fyn en meng alle bestanddele saam.

Vryf in blad, verkoel en laat staan oornag.

Draai toe in tinfoelie.

Bak in oond of Webber teen 140 grade celsius tot sag (ongeveer drie tot vier ure)

Bedien dit met ‘n roti / naan / pita-broodjie en tiemieskaapsous of knoffelroomsous / vars granaat / vars roket / ment en groentes van jou keuse.

Knoffelroomsous:

2 liter room

4 knoffelhuisies

1 blokkie hoenderaftreksel

1 medium ui gekap

Braai die ui en knoffel saam en gooi room in. 

Kook die roommengsel tot verdik en gooi hoenderaftreksel in.

Tiemieskaapsous:

Maak ‘n aftreksel van skaapbene, met wortels, seldery en uie. Kook fyn en verdik met skaapvleis-soppoeier, sojasous en Worcestersous. 

You need to be Logged In to leave a comment.