Die ingang na die Renosterberg-munisipaliteit.

Foto: Verskaf

Werknemers van die Renosterberg-munisipaliteit in Petrusville is moedeloos nadat hul salarisse weer nie vir Februarie en Maart betaal is nie omdat Eskom die munisipaliteit se bankrekeninge in Desember 2021 weens uitstaande skuld laat bevries het.

Bydraes tot die werknemers se pensioen- en mediese fondse en ander polisse is sedert Desember nie betaal nie. Intussen verswak munisipale dienslewering.

Die DA sê op sy beurt munisipale skuld aan Eskom beloop meer as R106 miljoen en dat die premier se vroeë administrasieproses misluk het.

Volgens Nombeko Gqiza, Imatu-vakbondwoordvoerder, is die werkers moedeloos.

“Die premier se kantoor het een keer gehelp en net Desember en Januarie se netto salarisse betaal. Die munisipale bestuur is hopeloos en het geen oplossings nie. Wanneer ons voorstelle oor geldbesparing maak, word ons aangesê ons stil te bly want hulle weet hoe om hul werk te doen. Duidelik is dit nie so nie. Ons pensioen- en mediese fondsbydraes is nie betaal nie, en sekere polisse het verval.”
Nombeko Gqiza

“Dit terwyl die salarisrekening vir amptenare hemelhoog is en hulle hulself verhogings gee. Daar is te veel amptenare vir so ‘n klein munisipaliteit. Nepotisme vier hoogty, terwyl werkers sonder salarisse en inwoners sonder dienste sit,” sê Gqiza.

Babalwa Mzambo, woordvoerder van die departement van samewerkende regering, sê hulle skenk aandag aan die beleërde munisipaliteit.

“Munisipaliteite is in ‘n ander sfeer en outonoom van die departement. Die raad en administrasie moet hulself ingevolge betrokke wetgewing bestuur en kostes besnoei. Ons en die tesourie verleen hulp wanneer en soos benodig. Wanneer ‘n munisipaliteit onder administrasie geplaas word, moet hulle self die spertye bepaal. Dit is onwaar dat die administrasie-proses misluk het. 

“Eskom en die munisipaliteit is in ‘n regsgeding betrokke en ons is betrokke om oplossings te vind. Ons sal verslag lewer oor die vordering van die bemiddeling.”

Abe Motolong, munisipale bestuurder, sê hy kan as rekenkundige beampte nie kommentaar lewer nie en het navrae na Andrew Samson, burgemeester verwys. Samson kon nie telefonies bereik word nie.

Op hul beurt sê Patricia Tsepane, Eskom-woordvoerder, hulle het die bankrekening in Desember 2021 laat bevries. “Ons het sekere voorwaardes aan Renosterberg gestel voordat ons die dwangbevel sal ophef. Die lengte van die dwangbevel hang af van die munisipaliteit se regstellende optrede.”

Volgens Harold McGluwa, DA-leier beloop die munisipaliteit se skuld aan die kragvoorsiener meer as R106 miljoen.

“Ons het ‘n dringende vergadering met dr. Zamani Saul, premier, en Bentley Vass, LUR van samewerkende regering versoek. Ongeag Saul se openbare stellings dat hy ‘n ooreenkoms met Eskom bereik het sodat salarisse betaal word, het niks gebeur nie. Hy moet dringend ‘n oplossing vind of toegee hy het misluk om die Renosterberg-munisipaliteit te red.

“Die nie-betaling van salarisse is ‘n growwe skending van arbeidswetgewing en dienste het tot stilstand gekom. Slegs een van vier waterpompe werk. Petrusville sit dae aaneen sonder water en Vanderkloof en Keurtjiefontein ervaar waternood. Net een van ses rioolpompe werk. Inwoners moes self suiweringschemikalieë vir drinkwater koop.”
Harold McGluwa

“Saul beter ook aandag gee aan die vele ander Eskom-wanbetalers, voordat soortgelyke krisisse na meer Noord-Kaapse munisipaliteite oorspoel en hulle onder hom ineenstort.”

Matt Posthumus, DA-raadslid, sê die premier moet help om sy tuisdorp reg te ruk.

“Toe die ANC-regering vroeër die munisipaliteit onder administrasie geplaas het, was dit rampspoedig. Hulle het onbevoegde kaders in plaas van bevoegde amptenare gebruik. Die voormalige munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard, het die Eskom-rekening suksesvol bestuur, maar die ANC het hom op onregverdige wyse vervang.

“Die Renosterberg-situasie is ‘n bitter mengsel van jare lange ANC-wanbestuur, vererger deur die land se elektrisiteitskrisis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article