Die Groenpunt Primêre Skool in Greenpoint, Kimberley, se uitblinkers in die WOW-spelfees is van links, voor: Johandre Booysen, Christeline Lalie, Allissandra Jonas en Elizan Niklaas

Die nasionale spelfeeskompetisie Woorde Open Wêrelde (WOW) het vir ’n klompie leerlinge aan die Groenpunt Primêre Skool in Greenpoint, Kimberley, sy naam gestand gedoen.

Nie net wou ’n groot aantal leerlinge deelneem nie, maar het van hulle tot die provinsiale én nasionale eindronde deurgedring.

Esmé Ferris, departementshoof van Afrikaans en WOW-spelfees-koördineerder, sê deelname aan só ’n kompetisie maak inderdaad die wêreld oop, en dit dra tot selfvertroue by leerlinge by.

Die Groenpunt Primêre Skool in Greenpoint, Kimberley, se uitblinkers in die WOW-spelfees is van links, voor: Johandre Booysen, Christeline Lalie, Allissandra Jonas en Elizan Niklaas; agter: Esmé Ferris (departementshoof van Afrikaans, WOW-spelfees-koördineerder), Cynthia Keeble (departements­hoof van die grondslagfase, beampte), William Block (skoolhoof) en Anzel Vries (Afrikaans-onderwyser, nasionale beampte).

Ferris vertel dat die skool vanjaar die kompetisie met 34 leerlinge begin het, en ná deelname in die kring en distrik het vier vir provinsiale deelname in Upington kwalifiseer – en daarna twee vir die nasionale eindronde by Universiteit Stellenbosch (US).

Van die leerlinge was nog nooit verder as Kimberley nie, en die reis na en deelname in Upington was ’n groot belewenis.

Die leerlinge wat op nasionale vlak kon deelneem, het onder meer Tafelberg, die Strand, Seepunt en Seinheuwel besoek.

Johandre Booysen (gr. 4) het met haar nasionale deelname in Stellenbosch die toeskouers hul asem laat ophou omdat sy so vinnig spel. Hul reaksie het haar juis onseker gemaak en sy het “kanselleer” verkeerd gespel. Sy het steeds 11de uit 28 geëindig.

Christeline Lalie (gr. 3), wat ook nasionaal deelgeneem het, vertel dat die woord “turksvye” die doring in haar vlees was.

Allissandra Jonas (gr. 4) het tot op provinsiale vlak deelgeneem, waar die woord “garage” haar gepootjie het.

Elizan Niklaas (gr. 7) het ook tot op provinsiale vlak deelgeneem, met “dahlia” wat haar gekortwiek het.

Ferris sê sy is oortuig dat die leeshoekies, wat in elke klas gevestig is, tot die sukses en geesdrif bygedra het.

You need to be Logged In to leave a comment.