WELKOM – Lee-Shay Alexander, ‘n leerling van Goudveld-Hoërskool in Welkom, is gekroon as die Sarie Nuwe Gesig 2025.
Die SARIE Voorbladgesig 2025-wenners is op 28 Augustus op SARIE.com en die tydskrif se sosiale mediakanale aangekondig. Lee-Shay se grasie, selfvertroue en deursettingsvermoë het die beoordelaars bekoor.
Lee-Shay is baie lief vir die modebedryf en wil graag deel wees van ‘n platform wat gereeld nuwe neigings en kreatiwiteit uitlig.
Volgens haar profiel is haar gunstelingwoord in Afrikaans: Slaap. “Want dit is gratis, laat my mooi lyk en los 90% van my probleme op.”
Sy beskryf haarself as passievol, pligsgetrou en stylvol. Sy beskou die feit dat sy fotogenies is as haar beste eienskap. Sy voel dit is asof die kamera die essensie van wie sy is, vasvang.
In ‘n onderhoud het sy gesê: “Suid-Afrika is vir my ‘n plek waar elke sonsopkoms nuwe hoop bring met onbreekbare gees, en elke mens ‘n storie het om te vertel.”


