Sedert die begraafplaasuitbreiding by Jan Kempdorp het lede van die Morobeng Primêre Landboukoöperasie nie meer veld waar hul diere kan wei nie.
Dié boere se vee het die afgelope 20 jaar langs die begraafplaas gewei. Weens die gebrek aan veld wei die diere nou in die begraafplaas of op die stortingsterrein.
Volgens DA-raadslid Annette van Wyk, is geen van die plekke geskik vir weiding nie. Mense vind dit ontstellend en onvanpas dat vee in die begraafplaas wei. Die gehalte van diere wat in die stortingsterrein wei, verlaag, met ’n swakker prys tot gevolg. Boonop klim die diere in die kanaal om water te drink omdat die boere nie waterregte op die grond het nie. Geen omheinings bestaan hier nie en diere word dikwels deur aankomende voertuie getref terwyl hulle langs die pad wei.
Volgens ’n mediaverklaring van die party bestaan die koöperasie uit 22 boere wat in totaal met 400 beeste, skape, bokke en varke boer. Dié boere probeer jare reeds om beter weiveld te verseker, sonder sukses.
Van Wyk sê die nabygeleë Vaalharts-navorsingstasie het glo 91 kampe, waarvan slegs vyf gebruik word.
Die res van die grond lê braak. Die party sê hulle sal druk op die departement van landbou toepas om die Morobeng Primêre Landboukoöperasie by te staan.


