’n Brand wat in ’n huis ontstaan het, het die lewe van drie kinders van Soebatsfontein, ongeveer 80 km vanaf Springbok, geëis.
Waylene (8), Waylon (3) en Wilnique (2) Adonis is Saterdagoggend 8 Junie in die brand dood. Hul ma, Wilmari Adonis, het vergeefs probeer om die kinders uit hul sinkhuis te red en het erge brandwonde aan haar gesig en arms opgedoen.
Lt.kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het vroeër vandeesweek gesê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Op 2 Mei is die 40-jarige Beaulah Basson van Upington en haar drie minderjarige kinders in ’n sinkhuis dood nadat ’n brandende kers vermoedelik omgeslaan het, en ’n brand veroorsaak het.
Die polisie in die Noord-Kaap doen ’n beroep op inwoners om tydens die wintermaande ekstra versigtig te wees wanneer ’n hittebron gebruik word.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, verskaf die volgende wenke:
- maak voor slaaptyd seker dat die vuur in vuurmaakplekke geblus is, en verwarmers afgeskakel is;
- moet nooit gaan slaap terwyl ’n kers nog brand nie, en vermy dit om konkavuur in die huis te maak;
- installeer rookalarms en toets dit gereeld;
- moet nooit in die bed rook nie; rook verkieslik buite en maak seker dat stompies nie meer smeul nie;
- wees ekstra versigtig wanneer kos gemaak word, veral wanneer gas of oop vlamme gebruik word;
- moet kragproppe nie oorlaai nie, veral nie die waaraan ’n verwarmer gekoppel is nie;
- skakel elektriese komberse af deur die nag, en maak eerder op ’n ekstra kombers staat;
- moenie probeer om ’n brand wat weens olie of vet ontstaan het, met water te blus nie; dit versprei slegs die vuur. Gebruik ’n brandblusser;
- hou vuurhoutjies, aanstekers en vlambare vloeistof weg van kinders;
- wanneer kos voorberei word, hou vlambare items soos gordyne, vatlappies en vadoeke weg van die stoof;
- indien jou klere vlam vat, “stop, drop, and roll”;
- bespreek ’n ontsnappingsplan en vuurdril met jou gesin;
- indien jou huis aan die brand raak, moenie probeer ingaan om nog besittings te probeer red nie; en
- plaas die telefoonnommers van die brandweer en ander noodnommers op ’n sigbare plek.





