Inwoners van die Minerva Gardens-aftreeoord in Kimberley is Donderdagmiddag (09/12) erg geskok gelaat nadat weerlig ’n gewel van ’n woonstelgebou afgeslaan en bakstene laat verkrummel het.
Benewens die gewel het ’n hele stuk van die baksteenmuur verkrummel. Stukke baksteen van die dubbelverdiepinggebou het 34 m ver getrek. Die geëlektrifiseerde heining se alarm is ook getref en die sirene het heeltyd afgegaan. Niemand is in die voorval beseer nie.
Die gebou bevat enkelwoonstelle en kamers vir verswakte bejaardes.
Elizabeth Hendricks, wat in ’n enkelverdiepingwoonstel bly, sê sy het ’n harde slag gehoor, en hoe die bakstene na benede stort. Sy het uitgehardloop en bakstene oor die plaveisel sien lê. Van die stukke het op die afdakke bokant geparkeerde motors beland.
“Dit was pas nadat ’n swaar reënbui uitgesak en die weer effe opgeklaar het. Toe hoor ek die stene val; dit was asof die bakstene ontplof het. Ek was erg geskok.
“Eers was ek te bang om uit te kom, totdat ek die ander inwoners sien uitkom het. Dit is toe wat ek my seun bel om te kom kyk.”
Heleen Pretorius sê sy het pas van vakansie teruggekeer en het by haar sussie in die Stillerweë-aftreeoord gaan kuier. “Die weer was erg, toe kom ek maar huis toe. Ek was pas hier toe hoor ek die slag. Ek het dadelik uitgekom, maar die ander inwoners het geskok bly sit.”
Adele Groenewald-Shields, tesourier van die oord, sê hulle het reeds die versekeraar in kennis gestel.
“Die DStv-ontvangs van al die woonstelle is uitgeslaan. Ons sal dadelik ’n kontrakteur laat uitkom om te sien wat die skade aan die nok en dak is. Ons is onseker of reënwater daar gaan inloop, want dan sal die betrokke woonstelle ontruim moet word.
“Ek gaan ook die buitedeure sluit om mense weg te hou, want dalk kan nog bakstene uitval.”
Sy moet ook nog bepaal of van die motors beskadig is.