John Ross Henderson
John Ross Henderson word deur polisielede begelei. FOTO: Charné Kemp

Micayla Afrique het Maandag 20 Oktober in die Kimberley-hooggeregshof oor die wintersaand van 31 Julie 2024 getuig. Dit was toe haar man, Jason Afrique, in ‘n koeëlreën voor hul woonkompleks in New Park gesterf het om haar te beskerm.

Volgens haar het die eerste koeël haar en Jason se gesigte rakelings in hul bakkiekajuit gemis. Jason het uitgeroep en bo-oor haar geval om haar te beskerm. Toe volg nog ‘n sarsie skote.

Sy was die eerste getuie in die verhoor waarin die oudpolisieman, John Ross Henderson, van Jason se moord, poging tot moord op Micayla, en twee aanklagte van regsverydeling aangekla word – aanklagte waarop hy onskuldig gepleit het.

Die oorledene, Jason Afrique. Foto: Argief

Luidens die akte van beskuldiging was Henderson die skieter. Hy het sy selfoon op die toneel laat val, en die volgende dag glo ‘n vals verklaring aan die polisie gemaak dat sy selfoon by ‘n vulstasie vermis geraak het. Henderson het glo ‘n werknemer by die vulstasie genader om die datum en tyd op die videomateriaal te wysig.

Hoewel Micayla kalm in die getuiebank was, het sy by tye gewieg en op haar lippe gebyt, veral toe sy getuig oor haar man se dood. Die hofsaal was gepak, met ‘n sigbare skeiding tussen die families van die slagoffers en die beskuldigde.

Sy en Jason was vroeër die aand saam met haar susters en hul mans, en haar broer, by haar ouerhuis vir aandete. Vandaar is sy en Jason na ‘n vulstasie om koeldrank te koop. Toe hulle by die winkel uitstap het sy ‘n man, dalk twee mans, links van haar gewaar wat met gevoude arms by ‘n wit voertuig staan en na hulle staar.

Vandaar het die egpaar na hul huis gery. Op pad het ‘n goud- of silwerkleurige voertuig vir hulle by ‘n stopstraat ligte geflits. Jason het vir die voertuig getoet. Om hul woonkompleks vanuit Blackstraat te bereik, moet hulle in ‘n steeg tot by die ingangshek ry. Daar het Micayla ‘n figuur met ‘n kappie oor sy kop sien staan, nie meer as drie meter weg nie. Die persoon het afgekyk. Sy en Jason het vir mekaar gekyk en hy het die toeter geblaas. Sy het vir Jason gesê om agteruit te ry.

LEES OOK: Henderson: Borgtog derde keer geweier

Dis toe dat die eerste skoot vanaf haar linkerkant afgaan en verby hul gesigte trek. Jason het na sy asem gesnak, haar afgedruk en bo-oor haar gaan lê. Nog skote is afgevuur. Steeds gehurk, selfoon in haar hand, het sy haar pa om 20:41 gebel.

Sy het die skieter hoor weghardloop, regop gekom en aan Jason geraak om te sê hy kan maar ry. Hy het nie reageer nie. Sy het haar pa weer om 20:43 gebel, en het besef wat gebeur het.

“Dit was dit. Jason was dood,” het sy getuig.

Patroondoppies, selfoon op misdaadtoneel

Haar pa, Sherwin Daniels, was binne minute op die toneel. Hy het haar beveel om in die bakkie te bly terwyl hy personeel van sy sekuriteitsfirma gebel en versoek het om die polisie en ambulansdienste te bel. Toe sy later uit die bakkie klim en na die ambulans stap, het iemand gevra wie se selfoon onder hul bakkie aan die passasierskant lê.

“Dit was nie my of my man s’n nie, dit was die skieter sʼn,” was haar antwoord.

LEES OOK: Verdagte verskyn in hof ná skietdood in Kimberley; borgtogaansoek uitgestel

Sy het letsels aan haar linkerwang van die glas wat in haar gesig gespat het. Sy ken nie die beskuldigde nie, en kan ook nie die skieter identifiseer nie.

Daniels, eienaar van Hard Core Security Services, het getuig hy was binne minute op die toneel omdat hy nie meer as 1,2km verder weg woon nie. Hy het geen mense of voertuie naby die toneel opgemerk nie. Etlike patroondoppies het om en onder die bakkie by die passasiersdeur en selfoon gelê. Sy areabestuurder en lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), asook die polisie het opgedaag. Rooi lint is aan die polisie gegee om die toneel af te sper.

Ontken dat toneel ‘vertrap’ is

In kruisondervraging van Herholdt Robertson namens Henderson het Daniels herhaaldelik ontken dat die polisie nie die misdaadtoneel goed afgesper of bewaak het nie. Volgens hom is die selfoon nie verskuif nie, en is die toneel nie deur omstanders besmet nie.

Hy het erken dat Jason se twee broers deur die polisie na die bakkie ontbied is om Jason te identifiseer. Daniels ontken dat die beskuldigde op die toneel was of dat hy met hom gepraat het.

Herholdt het dit aan hom gestel dat iemand die toneel “vertrap het” deur bakkies oor die patroondoppies te plaas, en dat iemand die selfoon verskuif het. Daniels het dit ontken.

Adv. Theuns Barnard kla aan.

Adjunkregterpresident Violet Phatsoane lei die verhoor, wat voortduur.

LEES OOK: Vrouemoord veroordeel, “Duiwel” verskyn in hof

You need to be Logged In to leave a comment.