Die herstelwerk aan pompe by die Riverton-watersuiweringsaanleg in Kimberley is voltooi en al vier pompe is gisteraand weer geinstalleer.
Groot dele van Kimberley het sedert Donderdag nie water gehad nie. Vier van die vyf pompe by dié watersuiweringsaanleg het Donderdag weens ’n meganiese fout gebreek toe instandhoudingswerk by een van die pompstasies gedoen is, sê Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit.
Sy sê die watertoevoer is herstel, maar hoogliggende gebiede kan steeds sonder water wees of die waterdruk kan laag wees.
Die vlakke van die reservoir is steeds laag en die munisipaliteit sal moontlik die water in die nagte afsny sodat die reservoirs kans kry om vol te loop sodat watervoorsiening weer volkome herstel kan word.
Indien daar gebiede is wat steeds geen water het nie, word inwoners versoek om dit aan te meld. Die water wat aanvanklik by die krane uitkom is vuil en daar is ook baie lug in die waterpype, maar dit is normaal wanneer water solank af was.
Riet sê daar is steeds vragmotors met water beskikbaar, veral in die gebiede waar die watertoevoer nog nie heeltemal herstel is nie.


