Padherstelwerk naby Wildebeestkuil, op die besige R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes, waar die padoppervlak gelig word, is nog nie voltooi nie, hoewel dit vir verkeer oop is.

Foto: Charné Kemp

Die Sol Plaatje-munisipaliteit wil die besoedelde watermassa langs die R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes, waarna selfs die premier, dr. Zamani Saul as Lake Zamani Saul verwys, as gesuiwerde water na die Vaalrivier wegpomp.

Die watermassa het sedert Maart vanjaar, nadat padherstelwerk van die departement van paaie en openbare werke weens waterskade naby Wildebeestkuil begin het, op drie ander plekke weerskante van dié belangrike ekonomiese roete opgedam.

Die padoppervlak word tans teen miljoene rande met een-en-’n-half meter gelig.

Volgens die departement van water en sanitasie lê die oorsaak in lekkende drink- en rioolwater pypnetwerke van die munisipaliteit wat in die Platfontein-pan opgedam het. Die watermassa is die afgelope seisoen deur bogemiddelde reën vererger.

Die probleem is reeds in 2016 aangemeld toe AfriForum strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder ingedien het. In 2020 het Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, verklarings en foto’s oor die watermassa uitgereik, waarna die DA ook hul misnoeë oor die lekkende pypnetwerk openbaar gemaak het. Die EFF het die watermassa na die premier genoem en dit “ ’n ramp” beskryf.

Van den Berg en van sy mede-partylede het in Julie die Goggapompstasie in Galeshewe besoek om oorsig te doen. Hul bevindings en videos is aan direkteure en amptenare gestuur. Volgens hom wys munisipale toetse op verskillende plekke dat die water met E. coli en soliede dele besoedel is.

“Al word dit gesuiwer, sal dit nooit drinkwatergehalte wees nie. Die pompstasie is teen miljoene rande opgeknap, maar baie min water word soontoe gepomp. Dit beskadig pompe wat te min water pomp. Die meeste rioolvuil in die gebied lek uit verstopte en stukkende pype en kom nie by Goggapomp uit nie. Iemand het selfs ’n sloot in die woongebied gegrawe sodat die rioolvuil in die veld uitvloei. Dit graviteer na die R31. Die rioolpype moet vervang en vergroot word om die probleem op te los.”

Boonop funksioneer net die helfte van die Homevale-rioolaanleg wat vroeër teen miljoene rande opgeknap is.

“Gesuiwerde water wat na die Langleg-pan gepomp moet word, word in Kamfersdam vrygelaat. Die dam is oorvol en dam teen die N12-roete op. Die water in Kimberley bedreig twee van ons belangrikste roetes.”
Kobus van den Berg

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê Kimberley is omring met natuurlike afvloeigebiede waarheen oppervlakwater na vier panne noord en suid van die stad vloei.

“Die gebied het bogemiddelde reënval in die laaste jare gehad, met 657 mm in die afgelope seisoen. Die afgelope vier jaar het 2 168 mm geval, wat bygedra het tot water wat in panne en paaie uitgestort het.

“Intussen het drinkwater uit die 657 mm grootmaattoevoerpyplyn gelek, asook van die pypnetwerk by Gogga- en ander rioolpompe. Die uitstorting het in die panne versamel, ook by die R31. Ons skat die verhouding tussen reën-, drink- en rioolwater is 50:40:10.

“Die munisipaliteit beoog om die water as ’n noodmaatreël na die Vaalrivier te pomp indien die watergehalte aanvaarbaar is. Indien daar E.coli besoedeling is, sal die water met chloor behandel word. Die koste van die beoogde planne is onbekend. Die stadsowerhede sal toestemming en ’n waterlisensie moet bekom.

“Die huidige lisensie vir die Homevale-rioolaanleg kan aangepas word. Homevale is gedeeltelik funksioneel weens diefstal en vandalisme-skade aan die infrastruktuur en gedeeltelik gesuiwerde water word vrygelaat.”

Ratau sê die departement sal die munisipaliteit geldelik bystaan vir herstelwerk.

“Ons berei dokumente voor vir ’n direktief en hofbevel. Die beplanning van die vereiste werk om die oorsaaklike probleme op te los, is aan die gang. Die fokus is om die probleme met lekke en uitstortings op te los, eerder as die gevolge van die vloede aan infrastruktuur. Die noodsituasie moet egter opgelos word.”

Water dam ook nou naby die toegangspad na die Platfontein Lodge op.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article