Water bedreig hoofpad

Kommer heers oor motoriste se veiligheid en die voortbestaan van die besige R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes waar tientalle slaggate gevorm het. Die pad word sedert verlede jaar aan albei kante deur ’n skynbaar groeiende watermassa omsoom.


Kommer heers oor motoriste se veiligheid en die voortbestaan van die besige R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes waar tientalle slaggate gevorm het. Die pad word sedert verlede jaar aan albei kante deur ’n skynbaar groeiende watermassa omsoom.

Hoewel die departement van paaie en openbare werke besig is om slaggate te herstel, word daar geswyg oor hoe beplan word om die oorsaak van die probleem op te los en die pad te herbou.

’n Amptenaar het egter erken dat hulle nie die geld het om die pad te herstel nie en ’n ingeligte bron sê die provinsiale regering staan bakhand by die private sektor om vir herstelwerk te betaal.

Sakemanne en inwoners wat die pad gebruik, is bekommerd oor veiligheid weens die pad se algehele “swak toestand”.

’n Ander kwessie is die ekonomiese gevolge indien die pad onbruikbaar word – omdat die landbou-, toerisme- en mynbou-sektore op dié roete tot die res van die provinsie steun. Die pad word veral deur vragmotors gebruik wat erts, toerusting en landbouprodukte na hawens en markte vervoer.

Die probleem het sewe jaar gelede ontstaan toe lekkende vars- en rioolwaterpypleidings van die Sol Plaatje-munisipaliteit, tesame met reën, op die Platfontein-pan buite die stad begin opdam het. Teen verlede jaar het die watermassa onderdeur tot aan die ander kant van die pad opgedam, waar oorhoofse kragpale in water staan. Minstens twee voertuie, waaronder ’n vragmotor, het verlede jaar in die water beland.

Intussen het slaggate teen die einde van verlede jaar op die betrokke padoppervlak ontstaan, en vele bonkige watervoëls wat deur die water gelok is, word vrekgery.

Nicol Jansen, Agri Noord-Kaap-president, sê landbou, toerisme- en mynbou-organisasies gaan druk op die regering plaas dat Sanral die bestuur en onderhoud van die hele roete van die provinsiale regering oorneem om die situasie te verbeter.

Kenne de Kock, eienaar van Kelrn-vervoer, sê die slaggate beskadig buitebande.

“Die koste om dit kort-kort te vervang is skrikwekkend. Daar is nie volgehoue verkeersbeheer om voertuie van die slaggate weg te hou nie. Die hele R31-roete is in ’n swak toestand. Die gedeelte voor en ná Koopmansfontein is vol slaggate en voertuie moet gereeld langs die pad ry om botsings met voertuie te voorkom wat vir slaggate uitswaai.”

Shadrack Tlhaole, EFF- provinsiale sekretaris, sê ongeag hul vroeëre waarskuwings oor die veiligheid van die pad waarin hulle die dam na dr. Zamani Saul, premier, genoem het, word geen regstellende stappe gedoen nie.

Die pad gee in, maar al wat die regering doen, is om betekenislose padtekens op te rig en aanhoudend slaggate reg te maak. Hulle lieg daaroor dat foutiewe munisipale pompe en lekkende pypleidings herstel is; die dam word voller.
Shadrack Thlaole

“Die hoogs bekwame premier en sy span faal om die eenvoudigste take in sy sogenaamde moderne groeiende en suksesvolle provinsie te verrig. Ons wonder of hy eerder wag om ’n boodskap van medelye te stuur wanneer iemand sy lewe verloor.

“Ons versoek die departement van paaie en openbare werke en die munisipaliteit om die pad te verlê en oplossings soos ’n brug te oorweeg. Ons sal voortgaan om teen luiheid en korrupsie van die ANC-regering te betoog. Die ANC gee nie om oor mense se lewe of gesondheid nie.”

Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid van die Sol Plaatje-munisipaliteit en die Frances Baard-distriksmunisipaliteit, sê met sy onlangse inspeksie kon hy sien die watervlakke is gevaarlik hoog.

“Al word slaggate herstel, help dit nie omdat die pad se fondamente beskadig is. Ek wil my hare uit my kop trek oor die dam vol gelekte munisipale drink- en rioolwater waarvoor belastingbetalers opdok.”

Delmaine Christians, DA-LP, sê hulle oorweeg verdere stappe teen die regering om werkbare oplossings te vind vir die pad wat disintegreer.

“Indien die pad meegee, sal die provinsiale ekonomie massiewe skade ly. Ons strafregtelike klagte teen die munisipaliteit, ’n ondersoek deur die Groen Skerpioene en beloftes deur die regering dat hulle sal optree, het niks opgelewer nie.”

Bonkige watervoëls wat na die dam gelok word, word vrekgery omdat hulle volgens padwerkers nie vinnig genoeg kan opvlieg voor aankomende vragmotors en voertuie nie.

You need to be Logged In to leave a comment.