Verskeie informele nedersettings van die Dawid Kruiper-munisipaliteit wat jare lank nie water gehad het nie, het nou weens die Covid-19-pandemie watertenks gekry.
Watertenks is onlangs aan gemeenskappe in Mooi Trap en Manenberg in Rietfontein afgelewer om in die stryd teen die verspreiding van Covid-19 te help.
Meris Kocks, gemeenskapsaktivis, sê hy is sedert 2018 in ’n stryd met die munisipaliteit om water aan inwoners van informele nedersettings te lewer.
Kocks sê nadat hy sy stryd onder die aandag van die menseregtekommissie en verskeie plaaslike koerante in die omgewing gebring het, het owerhede verlede jaar met ’n bakkie water begin aanry.
Op 11 April vanjaar het Kocks weer ’n brief aan die munisipaliteit en verskeie ander openbare verteenwoordigers gerig om die inwoners se lot te bekla.
Hy het op 24 April met Charles Mchizwa, hoof van kliëntediens, vergader om weer die lot van die inwoners te beklemtoon.
Intussen is twee watertenks van 5 000 liter vandeesmaand in die twee informele nedersettings opgerig.
Hy sê die watervragmotor kom uit Upington, wat beteken dat dit byna 300 km moet reis om die water in Rietfontein af te lewer.
Hierdie werkwyse gaan ’n enorme finansiële impak op die munisipaliteit se begroting het, meen Kocks.
Verder word gewonder hoe lank hierdie waterlewering volhoubaar sal wees, sê hy.
Hy meen die goedkoopste manier is om ’n waterpypleiding na die informele nedersettings aan te bring.
Dit kan vermag word met die bevoegde mense by die satellietkantoor op Rietfontein, sê Kocks.