‘Ware gentleman en rugbylegende’ van Kakamas ter ruste gelê

Paul Muller
Oom Paul Muller. FOTO: Nick Pretorius

” ‘n Groot boom het in Kakamas en die Noord-Kaapse rugbykringe geval. ‘n Legende van ons tyd se stem is stil. Ons sal sy nagedagtenis vir altyd eer,” sê ‘n rugbykenner van Upington nadat hy van Paul Muller, of te wel Oupa Muller, se dood verneem het.

Oom Paul, soos hy ook genoem was, was 83 jaar oud toe hy onlangs weens ‘n hartaanval in die Kakamas-hospitaal oorlede is.

Hy was ‘n legendariese figuur in sosiale- en sportkringe in Kakamas en sal onthou word vir sy bydrae in die bevordering van sport. Sy kleurvolle en luisterryke rugbyloopbaan sal lank in die geskiedenis van Kakamas- en Noordwes-Kaapland se rugbykringe leef.

Oom Paul is op 17 Julie 1942 in Kakamas gebore en was een van die vier bekende Muller-broers wat vir die rugbyklub Rivertons uitgedraf het. Hierdie broers, volgens gerugte uit daardie kontrei, het saamgestaan wanneer “die manne mekaar gegroet het op die rugbyveld”.

Sy linkerhotkloustewel wat die destydse leerrugbybal “myle ver” geskop het, was veral legendaries. Oom Paul se onortodokse spel op heelagter vir Rivertons en Noordwes-Kaapland het menige kenners in vervoering gehad. Hy word ook onthou as ‘n dapper en onvoorspelbare rugbyspeler.

Sy gestalte van 1,70 meter en 80 kilogram was maar klein in vergelyking met vandag se groot rugbyspelers. Tog was hy stewig en gespierd en het met sy veilige hande en voete op heelagter beïndruk.

Oom Paul Muller. FOTO: Nick Pretorius

Vele staaltjies bestaan oor oom Paul se kleurvolle rugbyloopbaan. Soos die keer tydens ‘n provinsiale wedstryd toe hy ‘n bal uit die lug vanaf die middellyn geskepskop het sonder dat hy sy hand aan die bal geraak het. Daardie bal het hy suiwer deur die pale gejaag. Vandaar sy onortodoksheid wat so kenmerkend was van sy spel.

Het rugby oral in die land gespeel

Voorheen, tydens ‘n onderhoud met dié nederige man, het hy genoem dat die Here se guns en goedheid hom in die bevoorregte posisie geplaas het om rugby oral in die land te kon speel.

“Ek is so dankbaar vir baie rugbymense wat my ondersteun het en ook die erkenning wat ek gekry het met my suksesse en genot as ‘n rugbyspeler,” het hy vertel.

In die sestiger- en sewentigerjare het hy Noordwes-Kaapland in die destydse moordende Rhodes-toernooie verteenwoordig waartydens hulle feitlik elke dag ‘n taai wedstryd moes speel.

“Veral die toernooi in die Kaap was baie taai. Elke dag het ‘n reënbui uitgesak en ons wat nie daardie toestande gewoond was nie, het maar swaar geleef. Die taai en harde manne van die Weskus was my moeilikste teenstanders op daardie spesifieke winter-toernooi,” het hy destyds vertel.

‘Ware gentleman en rugbylegende’

“Hy was enig in sy soort. Nie net as rugbyspeler van formaat nie, maar as gemeenskapsleier van Kakamas. Ek sal jou onthou as een van ons groot rugbyspelers met wie ek die eer gehad het om skouer te kon skuur in ons provinsiale spanne”, skryf Deen Mouton op sosialemedia oor sy ontslape voormalige spanmaat.

” ‘n Groot boom het in Kakamas en Noord-Kaap geval. ‘n Ware gentleman het ons verlaat. My innige simpatie aan oom Paul se familie”, skryf Arthur Strauss, voormalige Noordwes-Kaapland-heelagter van die sestiger- en sewentigerjare.

“‘n Groot Noordwes-Kaap rugbylegende het gesterf”, skryf Hilton Oor.

  • Oom Paul se vrou, Liena Bonita (77), het hom in 2021 ontval. Hy laat ses dogters – Marlene (59), Ernest (57), Susan (56), Liena (54), Roulene (51) en Paula (46) – asook 18 kleinkinders agter.
  • Hy word Saterdagoggend 7 Februarie vanuit die Saul Damon Congregational-kerk in Kakamas ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article