Pantsi Obusitse, voorsitter van Wanya Tsotsi.

Foto: Verskaf

Wanya Tsotsi, ’n gemeenskaps-misdaad­bekampingsgroep en niewinsgewende organisasie in Kimberley, beplan om vir sy negende verjaardag op 26 Maart weer duisende messe, skêre, vuurwapens en ander gevaarlike voorwerpe by ’n plaaslike skrootwerf te laat vernietig.

Wanya Tsotsi is volgens Pantsi Obusitse, voorsitter, destyds gestig om bendegeweld in Kimberley te stuit.

Deur hul toedoen is bendes in Kimberley se skole en gemeenskappe uitgewis.

Pantsi Obusitse, voorsitter van Wanya Tsotsi.

Die fokus is op ander misdaad en hul sosialemedia-platforms is vol plasing van dankbare misdaadslagoffers wie se gesteelde goedere by grypdiewe teruggevind word.

Die organisasie versoek besighede en ander belanghebbendes in Kimberley om hulle geldelik by te staan veral om hul misdaadbekampingsaksies in die stadskern voort te sit.

Hulle gebruik hul eie voertuie, betaal hul eie brandstof en data, en plaas hul lewe op die spel om misdadigers aan te keer. Hy sê besighede in die stad kan nie meer kla oor veel inbrake nie danksy hul goeie werk.

“Bendegeweld was destyds ’n groot probleem en ouers wat hul kinders moes begrawe was so woedend dat hulle die reg in eie hande geneem het.

“Ons het besef ons moet saamwerk voordat ons heeltemal wetteloos word.

“Ons het saam begin om die strate te patrolleer en geweldenaars aan te keer. Die boewe is met ’n sambok ‘geseën’.”

Kort voor lank is Obusitse en ander vrywilligers van aanranding aangekla.

“Ons het formeel georganiseer en wetsgehoorsaamheid bevorder.

“Misdaad styg steeds en die polisie en ons moet baie keer saamwerk om verdagtes aan te keer.”

Hy sê hul lede kan baie vinnig aktiveer word wanneer ’n misdaad gebeur.

Die vrywilligers het egter oor die jare tot 30 afgeneem soos lewenskoste gestyg het.

Wanya Tsotsi het oor die afgelope nege jaar derduisende messe, vuurwapens skroewedraaiers, sekels, dwelms, gereedskap, byle, hokkie- en gholfstokke, gebreekte skêre, skerpgemaakte horings, skaapskêre en gesteelde goedere by misdadigers afgeneem en laat vernietig.

“Ons betaal alles self, en steun swaar op skenkings.

“Ek het self al ’n voertuig verloor. As ons twee bakkies en brandstof kan kry om gevaarlike plekke, van Greenpoint tot Roodepan en Platfontein te patrolleer, kan ons meer misdaad bekamp.”

Die grootste oorsaak van misdaad is dwelmverslawing en jeugdige werkloosheid.

“Jong mense wat matriek het en nie werk kry nie, is honger. Dit is hoekom hulle misdade pleeg.

“Daarom wil ons aan die gemeenskap teruggee en die oorsaak van misdaad aanpak.

“Ons koop kospakkies, staan netbal-, sokker- en tennisspanne by, help om afgeleefde huise te herstel en lewer gereeld motiveringspraatjies aan matriekleerlinge.

Dit is nie te sê dat as jy werkloos is, jy net moet rondlê en misdaad pleeg nie. Jy kan by gemeenskapsgroepe betrokke raak of jou eie groente kweek om selftrots te kweek. Ons staan misdadigers by wat wil rehabiliteer.

“Ons werk spreek vanself. Twee van ons vrywilligers het permanente werk gekry vanweë hul getroue gemeenskapsdiens by Wanya Tsotsi.

“Dit is dié dat ons reeds 60 000 volgelinge op sosiale media het. Mense uit ander provinsies vra ons om by hul dorpe en stede betrokke te raak.

“Ek wens ons eie Noord-Kaapse regering gee ons ook meer erkenning vir wat ons doen.”

Bel Obusitse by 083-248-0801 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.