’n Onderwyser aan die Hoërskool Daniëlskuil en skeidsregter, Christo Kemp, is deur ’n ouer aangerand by ’n rugbywedstryd tussen die Hoërskool Danielskuil en Hoërskool Kathu.Foto: Skermgreep


Christo Kemp, die skeidsregter wat in Mei ná ’n rugbywedstryd by die Hoër­skool Daniëlskuil aangerand is, se regs­verteenwoordiger sê hy voel nie veilig om ná die skoolvakansie as onderwyser na dieselfde skool terug te keer nie.

Dit kom nadat die Noord-Kaapse departement van onderwys gesê het die departement is tevrede dat Kemp “veilig” sal wees.

Kemp se regsverteenwoordiger, wat nie sy naam wil laat publiseer nie, sê Kemp het nog nie voldoende ver­sekering van die skool, beheerliggaam (SBL) of die departement gekry dat sy veiligheid verseker is nie.

“My kliënt voel blootgestel omdat hy in die koshuis woon, die skoolbus bestuur en omdat sy klaskamer ver van die kantoor geleë is. Hy wil dit nie eens in die dorp waag ná ’n doodsdreige­ment nie.”

Dit volg op die aanval op Kemp en Fires van Vuuren, twee skeidsregters, ná ’n o.15-wedstryd tussen die Hoërskool Kathu en die Hoërskool Daniëlskuil op laasgenoemde se tuisveld.

Op die video van die voorval wat wyd op die sosiale media versprei is, word gesien hoe Kemp en Van Vuuren ná die eindfluitjie deurloop. Leerlinge en ouers van die Hoërskool Daniëlskuil skop en slaan na die twee mans. Kemp is sedert die voorval op spesiale verlof weens sy beserings en trauma.

Sydney Stander, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die skool het reeds met ’n tugverhoor teen een leerling begin, terwyl die ander leerling uitstel gevra het. Sy verhoor en dié van volwasse betrokkenes sal op 13 Julie plaasvind.

“Die sanksies sal ook dan bekend gemaak word. Ons sal die uitslag van ons tugverhore na die Griekwaland-Wes-rugbyunie stuur,” sê Stander.

Voorheen het Stander gesê hul amptenare het die skool besoek, en hy meen Kemp sal veilig wees.

Jan-George van Straten, SBL-voorsitter, sê hulle is in gesprek met Kemp oor sy veiligheid en het voorstelle gemaak. Intussen doen die SBL leerlinge en ouers se tugverhore.

“Die ondersoek teen die twee onderwysers is hangende, waarna die tugverhoor sal volg,” sê Van Straten.

Die Griekwaland-Wes-rugbyunie het die meeste van sy tugverhore afge­handel. Die twee ouers wat toeskouers by die wedstryd was, is verlede week lewenslank uit rugby geskors. Hulle het skuld beken op die aanklagte van aanranding en gedrag wat rugby in oneer gebring het. Een o.15-speler is op dieselfde geleentheid skuldig bevind en vir 24 wedstryde geskors, waarvan agt wedstryde opge­skort is. Die ander seun (ook 15) is reeds in Junie vir 24 wedstryde geskors nadat hy skuld beken het in ’n virtuele tugverhoor. Die seuns is leerlinge aan die skool.

Die o.15-afrigter van die Hoërskool Daniëlskuil is op aanklagte van verbale aanranding onskuldig bevind. Die span se hulpafrigter wat van fisieke aanran­ding aangekla is, het uitstel vir sy ver­hoor gevra. Dit sal na verwagting van­deesweek plaasvind. Hulle is saam met Kemp onderwysers by die skool.

Kat Swanepoel, voorsitter van die Griekwaland-Wes-rugbyskeidsregters­vereniging, sê die uitkoms van die tugverhore stuur die regte boodskap dat wangedrag nie geduld sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article