Wanneer sy uitdagende vergaderings bygewoon het, het sy ’n houtwasgoedpennetjie aan haar dokumente vasgeknip.
Hierdie wasgoedpennetjie het nie daadwerklik die dokumente bymekaargehou nie.
Wanneer die uitdagende vergadering volstoom aan die gang was, het sy dit van die dokumente afgehaal en in haar hand op haar skoot vasgehou.
Nou en dan sou sy dit opknip en dan weer toeknip.
Die wasgoedpennetjie het nou en dan my aandag getrek en dan sou ek daaroor wonder. Daar was egter soveel werksdruk dat ek nie baie tyd hieraan kon bestee nie.
Dit was immers net ’n houtwasgoedpennetjie.
Wanneer ons saam ’n volgende vergadering bygewoon het, was die houtwasgoedpennetjie nêrens te sien nie. Dalk het sy dit verloor? Of vergeet?
Eendag het ek in haar kantoor ingestap, en die wasgoedpennetjie was aan ’n hopie dokumente vasgeknip.
Ek het haar daaroor uitgevra.
Sy het geglimlag.
“Ek het nie altyd ’n wag voor my mond nie,” het sy vertel.
Die wasgoedpennetjie was ’n simbool dat sy haar lippe op mekaar moet hou en dink voordat sy praat.
Wanneer emosies begin opvlam, het sy dit in haar hand gehou om te konsentreer om eers te dink voordat sy praat.
“Dit was nog nooit nodig nie, maar die idee is dat, wanneer ek iets gaan kwytraak wat my in die moeilikheid gaan beland, ek die wasgoedpennetjie tydens die vergadering aan my lippe vasknip.”

