Marc en Valerie DoubellFoto: Verskaf


’n Veiligheidswag van Kuruman wat die naweek in die polisieselle deurgebring het nadat hy glo ’n sakeman met ’n rubberkoeël in die gesig geskiet het, is nie strafregtelik aangekla nie.

Die 37-jarige veiligheidswag, van die Puma-vulstasie in Kuruman, is Maandag (04/05) uit aanhouding vrygelaat sonder om in die landdroshof in Kuruman te verskyn.

marc

Marc en Valerie DoubellFoto: Verskaf

Sodra die polisieondersoek voltooi is, sal die staat beslis of hy aangekla moet word en kan die saak op die hofrol vir verhoor geplaas word.

Die wag is op Werkersdag (01/05) op ’n klag van poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy Marc Doubell (36) na bewering met ’n rubberkoeël in die gesig geskiet het.

Die voorval het omstreeks 17:20 by die Puma-vulstasie, wat by die Mokala-winkelsentrum in Kuruman geleë is, plaasgevind.

Die wag, wat die toegang van klante na die winkel moes beheer, het na bewering geweier dat Marc sonder ’n masker ingaan. ’n Stryery het glo tussen die mans ontstaan, waarna Marc in die gesig geskiet is.

Die polisie het die wag in hegtenis geneem en beslag gelê op die vuurwapen, wat met rubberkoeëls gelaai was.

Marc se vrou, Valerie, het vroeër gesê dit gaan onder die omstandighede goed met haar man.

Hy is uit die hospitaal ontslaan en sterk goed by die huis aan.

“Sy gesig is vreeslik geswel.”

Volgens Valerie het Marc wel ’n masker in sy voertuig gaan haal nadat die veiligheidswag hom toegang geweier het. Sy sê hy is met sy masker in die winkel toegelaat en het koeldrank gekoop.

“Dit is toe Marc op pad uit was dat daar ’n woordewisseling tussen hom en die wag ontstaan en hy my man, wat skaars ’n meter van hom af was, in die gesig geskiet het.”

Sy sê Marc het met arms vol koeldrankbottels gestaan en was nie ’n bedreiging vir die wag nie.

Valerie sê die veiligheidswag was glo arrogant. Sy meen veiligheidswagte moet onder omstandighede beter opleiding ontvang om die ongewone situasie van die inperkingsmaatreëls te kan hanteer.

Lt.genl. Risimati Peter Shivuri, provinsiale polisiekommissaris, het die aanval veroordeel en gevra dat mense geduld aan die dag moet lê en hul samewerking tydens die stryd teen die Covid-19-pandemie gee.

  • Die wag se naam kan nie gepubliseer word nie omdat hy nie aangekla is en in die hof verskyn het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.