Maatskaplike werkers word daagliks aan die ontstellende werklikheid van mishandeling, verwaarlosing en ander vorme van onreg in gemeenskappe blootgestel.
Tog deins hulle nie daarvoor terug nie en veg hulle in die voorste linies ter wille van weerlose groepe in die samelewing.
Om dié rede het Solidariteit Helpende Hand maatskaplike werkers vereer, met Internasionale Maatskaplikewerkdag op 21 Maart in gedagte.
Ná ’n benoemingsproses wat deur die publiek ondersteun is en die daaropvolgende beoordeling is 11 mense in die beroep as Hoopdraers van 2023 aangewys.
Die doelwit hiervan is om openbare erkenning te gee aan maatskaplike werkers se onblusbare passie vir hul werk, ondanks omstandighede.
Christia Potgieter, hoof van die maatskaplikewerkdienste-afdeling by die organisasie, sê die beroep van maatskaplike werk is daarop gerig om mense in nood te ondersteun, weerloses te beveilig en om maatskaplike ongeregtighede te bestry.
Enkele woorde wat die beroep en mense in die beroep beskryf, meen Potgieter, is: dapper, toegewyd, empaties, roepingsgedrewe en waagmoedig.
Bianca Smit van Solidariteit se Beroepsnetwerke sê maatskaplike werkers bring hoop waar ellendige toestande heers; en is die lig in iemand se donker.
Hulle is meer as net ligdraers in die gemeenskap – hulle is hoopdraers.
Drie van die 11 Hoopdraers uit die omgewing is: Emsie Malan van die Noord-Kaap-streek; Marlize Ramsden, uit die Vrystaat; en Nicolene Cordier, uit Noordwes.


