Brande

Meer as een brand het die afgelope naweek duisende hektaar weiding vernietig, vee gedood en menselewens bedreig.

Was dit nie vir die georganiseerde landbou, die distriksmunisipaliteit se rampbestuurspan, sakelui, ’n sekuriteitsmaatskappy en vrywilligers van plase en dorpe wat vlamme geslaan en kos en water gestuur het nie, sou die brandslaners wat drie afsonderlike brande in Kuruman tot by Blikfontein, Daniëlskuil en Lohatla moes beveg, dit nie oorleef het nie.

’n Emosionele Jan Joubert, voorsitter van Agri Kuruman, het Dinsdag (10/08) vertel hoe uitgeputte brandslaners deur weldoeners bygestaan is. Hy het Dinsdag oor Kuruman na Reivilo en Daniëlskuil gevlieg. Volgens hul opname wat uit die lug gedoen is, is sowat 102 000 ha tussen Kuruman, Reivilo en Blikfontein vernietig. 

Die brand het Dinsdag tussen Reivilo en Blikfontein opgevlam. Joubert sê die brande is meesal deur brandstigting veroorsaak en het verlede week en die afgelope naweek derduisende hektaar weiding om Lohatla vernietig.

Mense het kos en water aangedra. ’n Sekuriteitsmaatskappy het sy voertuie met toerusting en personeel gestuur om te help en die verspreiding van kos en water te koördineer. Volgens Joubert het die eerste brand Donderdag op die R31 tussen Kuruman en Daniëlskuil begin. 

“Die oorsaak is brandstigting. Daar is geweldig baie voorvalle van brandstigting op die roete. Dit kan brandende stompies wees wat by motors uitgegooi word, vure wat langs die pad gemaak word of kwaadwillige brandstigting. 

“Benewens derduisende hektare wat gebrand het, is berigte ontvang van vee wat weens brandwonde van kant gemaak is. Die brand is Vrydag geblus.”

Die tweede brand het Sondagoggend in Kuruman naby die gholfbaan begin en na Reivilo en Blikfontein versprei. Die sterk noordoostewind het sake vererger, asook die ruig plantegroei. Vlamme het na die weste- en oostekant versprei, wat die brand verbreed het. Daar is ’n erge verlies aan weiding, pale, heining en pype.

“Die brand wat Sondagmiddag in Lohatlha uitgebreek het, het van die weermag se gebied gekom waar gemeenskapslede woon. Die oorsaak van die brand is onbekend. Met dié dat twee brande Sondag gewoed het, was die spanne in twee verdeel. Manne wat reeds moeg en honger was, moes verder teen vlamme veg.

“Ek moet ’n ieder en elk bedank wat ons gehelp het. Ons sal moet vasstel hoeveel kuddes oorleef het en of weiding elders beskikbaar is. Agri Noord-Kaap sal ons bystaan om voer vir kuddes te bring.”

Willem Symington, Agri Noord-Kaap vise-president, sê die nasionale regering moet hom beter op brande voorberei omdat dit die ekonomie knou. 

“Die regering moet vliegtuie verskaf sodat die bestryding van brande gekoördineer word, helikopters kan water gooi en skakeling tussen brandslaners van distriksmunisipaliteite verbeter.”

Willie Aucamp, DA-LP, sê hy is bekommerd oor voedselsekuriteit in die land, gegewe die invloed van die vernietigende droogte elders in die provinsie. 

You need to be Logged In to leave a comment.