Slegs een munisipale vullisterrein uit die 18 wat in die Noord-Kaap in AfriForum se onlangse oudit gemeet is, het aan nasionale standaarde voldoen, en in die Noordwes slegs drie uit die 23.

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine oor die land heen geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullis­terreine in Suid-Afrika te meet.

In die Noord-Kaap was dit slegs die vullisterrein van Orania, met 90%, wat aan die vereistes voldoen het.

Van die ander Noord-Kaapse vullisterreine het die volgende persentasies ontvang: Douglas 8%; Hartswater 20%; Hopetown 10%; Kathu 18%; Kimberley 32%; Kuruman 38%; Warrenton 6% en Upington 26%.

In die Noordwes het Bloemhof 26% ontvang en Christiana 16%.

Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewings­bestuur, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Werner Strauss, die organisasie se distriks­koördineerder vir die Kalahari, is die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap in ’n haglike toestand.

“Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan munisipaliteite wat nie hulle pligte nakom nie,” sê hy.

Jp Nel, die koördineerder vir die Stellaland-streek, sê die ouditverslae in die Noordwes kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur deur munisipaliteite. Daar is geen of min kontrole by vullisterreine, wat veroorsaak dat storting nie soos voorgeskryf kan plaasvind nie.

Toegang na hierdie vullis­terreine word blykbaar ook nie na wense bestuur nie.

Lize-Mari van der Linden sê die mees algemene probleme wat tydens die oudit aangetref ia, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en algehele wanbestuur van terreine. Munisipale verval is aan die orde van die dag, en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

Die organisasie het in die afgelope twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, en haar span vergader.

Uit hierdie vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede bestaan, lui die verklaring. nie met mekaar kommunikeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.