Die vrylating van 19 000 gevangenes in sekere kategorieë uit Suid-Afrika se oorvol tronke op parool tydens grendeltyd is tekenend van die skaakmatsituasie waarin Suid-Afrika hom op talle gebiede bevind, en lei tot gedwonge “oplossings” wat kom teen ’n prys.
Hul vrylating strook weliswaar met die Verenigde Nasies se versoek dat gevonnistes in sekere kategorieë vrygelaat word om Covid-19-verspreiding te help bekamp, maar skep ander probleme.
Die druk op tronke as hoërisiko-plekke word verlig, maar die maatskaplik-ekonomiese las in ’n land wat reeds met humanitêre agterstande worstel, gaan des te meer vererger.
Die praktiese realiteite van die vrylating van die gevangenes – veral midde-in grendeltyd – skep twyfel of die doel van rehabilitasie, wat tronkstraf ten gronde lê, deur die krisisoptrede gedien word.
Suid-Afrika spog juis nie met ’n wenrekord met die rehabilitering van gevangenes nie. Korrektiewe dienste se mededeling dat die meeste van die 19 000 aan mindere misdade skuldig bevind is, siekes, vroue en diegene ouer as 60 voorkeur kry, en verdienste geld, waarborg nie hul probleemlose vrylating nie.
Vrygelatenes moet darem ’n kontroleerbare vaste adres hê, minstens vir die doeleinde van die gemeenskapsdiens wat hulle veronderstel is om later te verrig.
Vir die 5 000 aangehoudenes wat op borgtog geregtig is, maar dit nie kan betaal nie, bied dié parool ’n uitweg. Maar selfs met ’n heenkome gaan dit vir alle paroolgangers en hul naastes bars gaan om te oorleef.
Dit beteken nie diegene wat ’n misstap begaan het, moenie ’n tweede kans kry nie. ’n Ligpuntjie is van die meer as 14 000 vrygelatenes op parool einde 2019 het 99% sover aan voorwaardes voldoen.
Die dilemma is die land se tronke is gemiddeld 132,6% vol.
Volgens Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sou Covid-19 se verspreiding in tronke met ’n besettingsyfer van 70% beheer kon word.
Dié syfer wat sou dui op ’n bestel waar krisis-oplossings nie ingespan hoef te word nie is ’n ontwykende ideaal.– Volksblad, 15 Mei