Vrouestoei maak opgang in Suid-Afrika, en al hoe meer jong vroue is op die stoeimat te sien, soos Minette Kruger (17) en Lillian Mbena (17).

Foto: Deon Raath

Die stoeigogga het Minette Kruger (17) gebyt toe sy as ’n kleuter gekyk het hoe haar boetie die sportsoort beoefen.

Kruger, tot verlede jaar nog ’n leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, is een van talle meisies en jong vroue wat die Suid-Afrikaanse vlag in onlangse maande hoog laat wapper het in die stoei-arenas van Afrika. Hulle deel dieselfde ambisie: om Olimpiese en wêreldkampioene te word.

Suid-Afrika se vroue het verlede maand op die Afrika-kampioenskap in Egipte sewe medaljes (een goud, drie silwer en drie brons) los­gestoei in die kontinentale kompetisies vir o. 17- en o. 20-stoeiers.

Kruger, wat met twee medaljes teruggekeer het, sê sy is een aand saam na een van haar boetie se oefeninge en was só jaloers, “want hoekom kan my boetie iets doen maar ek mag nie? En toe ek daai aand sien wat hulle doen, het my hele lewe verander, ek het heeltemal verlief geraak daarop.”

So lief is Kruger vir stoei dat sy in ’n stadium amper elke naweek van Kimberley na Johannesburg gery het vir kompetisies, en verlede jaar na die Hoërskool Waterkloof geskuif het om nader aan die Menlopark-stoeiklub te wees.

Afrika-vrouestoei word al ’n paar jaar oorheers deur Nigerië, waar jong vroue in oefenkampe woon. Suid-Afrika het nie daardie luuksheid nie, sê die stoei-afrigter Marius le Roux, en moet in dié stadium vrede maak met sy amateurstatus.

“Maar net omdat ons amateurs is, beteken nie ons moet soos amateurs dink nie,” sê hy.

Verwerk, Rapport, 21 April

You need to be Logged In to leave a comment.