In ’n wêreld waar vroue voorheen tradisionele manssportsoorte al meer betree, presteer sportvroue van die Noord-Kaap al meer.
Aneka Fick van Barkly-Wes, en ook Cameron Dyers van Springbok, is twee Noord-Kaapse vroueskeidsregters wat die afgelope paar jaar wedstryde tussen provinsiale en junior vrouerugbyspanne oor die land heen beheer. Fick, ’n organiseerder en rugby- en netbalafrigter by die Wildeklawer Sportakademie in Barkly-Wes, is ook by die Wildeklawer-boerdery werksaam.
Wildeklawer het haar só op Facebook geluk gewens:
“Ons is ongelooflik trots dat Aneka verlede week die Saru (Suid-Afrikaanse Rugby-unie) jaarlikse provinsiale skole o.16- rugbytoernooi en die o.18- rugbytoernooi suksesvol behartig het. Aneka se toewyding en passie vir rugby is duidelik in haar uitstekende vertoning op die veld.
“Haar vermoë om sulke hoëdruk-wedstryde met kundigheid en onpartydigheid te bestuur, maak haar ’n rolmodel vir toekomstige geslagte skeidsregters.
“Aneka se bydrae tot die sport is van onskatbare waarde en ons sien uit na haar toekomstige suksesse.”
Die Sportakademie se rugby- en netbalspanne het vroeër vanjaar die beste nog in die Wildeklawer-uitnodigingstoernooi ten tyde van die Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi in Kimberley gevaar.
Die o.19-rugbyspan het die toernooi gewen terwyl die o.19-netbalspan derde gekom het.
Die o.13-netbalspan was vierde in hul toernooi en die o.13-rugbyspan derde. Die akademie se sportspanne neem nou aan die provinsiale B-skole-liga en mediumskole-liga deel.
Fick sê sy is gek oor rugby omdat enigiets op die veld kan gebeur en die spelers as ’n span moet saamwerk om uitdagings in geleenthede te omskep om punte aan te teken.
Sy het as skeidsregter begin optree nadat Kat Swanepoel, amateur-rugbybestuurder van die Griekwaland-Wes Rugbyunie, haar genader het juis omdat sy die reëls so goed ken.
“Ek het toe as skeidsregter begin optree. Saru-beamptes het my assesseer waarna ek goedgekeur en geakkrediteer is om vir hulle op te tree. Dit is lekker om die sportsoort vanuit ’n ander hoedanigheid as afrigter te benader. Boonop groei vrouerugby teen ’n ongelooflike koers en is daar selfs skole wat dit aanbied, nie net klubs nie. Vroue wat van die sportsoort hou, het nou geleenthede om te kan speel.”
Sy tree as skeidsregter in Saru se Eerste Divisie Vrouerugby-reeks op en het ook by die Nasionale Junior Rugbyweek opgetree.