Die tema van reën, hoop en vernuwing het vanjaar na vore in die woorde van gassprekers gekom, en was ook simbolies in die verhoognaam van die kunstenaar en dekor van die onlangse vrouegeleentheid wat deur die NG kerk Bakenskop in Kimberley aangebied is.
Vir etlike jare reeds bied dié gemeente ‘n geleentheid vir vroue aan waartydens hulle kan ontspan, asem skep en met nuwe insig terugkeer huis toe.
Vanjaar se geleentheid is op Vrydagaand 29 Augustus by Bella Cardi buite die stad aangebied, en Joshua na die Reën en van sy orkeslede het opgetree onder (watte)wolkies wat die tema simboliseer.

Hoop ‘n kragtige element wat wonde kan genees
“Hoop is ‘n kosbare skat wat mens in jou saamdra. Geld kan dit nie koop nie, en niemand kan dit van jou wegneem nie. Jy dra dit in al die seisoene van jou lewe saam,” het dr. Lizanne Small, ‘n plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Kimberley, in haar praatjie gesê.
Small sê wonde vorm ‘n groot deel van haar werk. “Ons almal ken wonde – wonde van onregverdigheid, ongelykheid, onvergenoegdheid, van stilgemaak en onderskat en ondermyn word. Soms is dit historiese wonde wat vroue in hul harte, stemme en liggame saamdra. As dit reg versorg word, genees wonde. Een van die kragtigste elemente wat wonde kan genees, is hoop.”
Sy sê wonde is ‘n kragtige teken wat ons herinner aan die Opstanding en aan hoop.
“Hoop leer ons geduld, gee ons volharding, en gee ons hoop dat die menslike gees weer sal opstaan. Ek beleef daagliks stories van hoop in my spreekkamer.”

Sy vertel dat sy met hoofsaaklik drie tipe pasiënte te doen het. Die eerste is die met geboortedefekte wat ‘n gesplete lip of erge bakoortjies kan insluit. So ‘n mediese reis bied vir die persoon ‘n glimlag, waardigheid en hoop om die toekoms mee in te gaan.
Daar is pasiënte wat deur trauma geskend is, soos vroue wat ‘n mastektomie weens borskanker moes ondergaan. “Vir hulle gee rekonstruksie ‘n gevoel en simbool van normaalheid en oorwinning.”
Ander is dié wat na ‘n beter weergawe van hulself strewe. “Estetiese prosedures kan eenvoudig wees, soos om moegheid om jou oë te verwyder. Dit moet nie daar wees om jou as individu te verander nie – net om ‘n beter weergawe van jouself te sien. Dit kan nie waardigheid skep nie, maar kan jou waardigheid uitlig.”

LEES OOK: Vroue-byeenkoms met Joshua na die Reën: Hoor verhale van hoop, vernuwing
Gaskunstenaar Joshua na die Reën, ofte wel Jacques de Villiers, het in ‘n vroeëre onderhoud gesê dat reën lewe bring, al is dit wat daaruit voortspruit, nie altyd dadelik sigbaar nie.
Ds. Arina Zandberg, leraar van die gemeente, het van haar en haar gesin se pad vertel toe sy ‘n kankerdiagnose ontvang het terwyl sy swanger was met ‘n baba waarvoor hulle jare gewag het.
“Daar is hoop vir almal in alle omstandighede – dit is nie beperk tot sekere individue en seisoene nie.
“Hoop is ‘n sagte woord as ‘n wens vir iets beter, maar dit is een van die kragtigste woorde wat bestaan. Krag lê nie daarin dat ons nooit sal val nie, maar dat ons elke keer sal opstaan.
– Dr. Lizanne Small
“Mag hoop jou dra, mag hoop jou lei, en mag hoop jou herinner dat jy meer as genoeg is,” het Small afgesluit.
NoordkaapBulletin was die gedrukte mediaborg van die geleentheid.







You must be logged in to post a comment.