Simbolies en sentraal vloei die verhoognaam van vanjaar se vermaaklikheidskunstenaar in die atmosfeer van die vrouegeleentheid wat deur die NG kerk Bakenskop in Kimberley aangebied word.
Joshua na die Reën, ofte wel Jacques de Villiers, asook enkele musikante tree op dié spesiale byeenkoms vir vroue op Vrydagaand 29 Augustus op. Die geleentheid lê klem op hoeveel goeie dinge op ‘n mens se pad kan kom.

“Afhangend van die situasie is reën vir sommige ‘n positiewe en vir ander ‘n negatiewe natuurverskynsel, maar dié wat daardeur geraak word, besef dat dit lewe bring − al is dit wat daaruit voortspruit, nie dadelik sigbaar nie.” Só is die multi-bekroonde sanger en liedjieskrywer voorheen aangehaal.
Ná meer as ‘n dekade verower Joshua na die Reën steeds harte met sy betekenisvolle musiek, unieke styl, diep lirieke en besonderse klank − en vroue wat die geleentheid bywoon, kan verwag om ook hierdeur meegevoer te word.
Deel verhale van stormagtige tye, tye van hoop
Omdat ds. Arina Zandberg, leraar aan dié gemeente, en haar gesin al ‘n pad in stormreën gestap het, lewer sy tydens die aand se verrigtinge getuienis.
Sy vertel meer van dié pad toe sy enkele jare gelede ‘n kankerdiagnose ontvang het, terwyl sy swanger was met ‘n wonderwerkbaba waarvoor hulle jare gewag het.

Deels omdat Augustus Vrouemaand is, en deels omdat dr. Lizanne Small se werk op die positiewe fokus, kom sy ook aan die woord. Sy is ‘n plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Kimberley.
Haar belangstelling sluit in estetiese velsorg, asook die hantering van velkankers, estetiese en rekonstruktiewe borschirurgie, en ook die rekonstruksie van brandwonde en traumaverwante beserings.
Bespreek kaartjies vóór plekke uitverkoop is
Vroue wat dié geleentheid bywoon, kan uitsien na vars koffie deur Barristers Coffee Bar, smullekker versnaperinge deur die kos-koningin Wilhelmina, en ‘n kontantkroeg.
Boonop is ‘n gratis aflaai-diens, geborg deur KIA Motors Kimberley, beskikbaar vir vroue wat nie kans sien om in die aand die afstand tussen die venue en Kimberley te ry nie. Dié diens sal vroue ná die geleentheid tot by Caltex Ranch Motors, op die hoek van Memorialweg en MacDougall-straat, neem.
- Die geleentheid begin om 18:00 by Bella Cardi, wat ongeveer 8km buite Kimberley langs die N12 geleë is.
- Beperkte plek is beskikbaar vir dié spesiale aand, waarvoor vroue kan optof. Bespreek ‘n kaartjie teen R360 per persoon direk by Zandberg by 082 323 0127.
- Kaartjies kan ook aanlyn gekoop word deur hierdie skakel te volg.
NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.







You must be logged in to post a comment.