Camilla Neelse se borste het so groot geraak dat sy sukkel om uit haar bed uit op te staan

Christiaan Cloete

’n Vrou van Roodepan in Kimberley lei aan ’n seldsame toestand, gigantomastie, wat veroorsaak dat haar borste onbeheerst aanhou groei.

Gigantomastie beïnvloed glo bindweefsel in die borste en veroorsaak dat dit oormatig en aanhoudend groei.

Die toestand word deur ’n reaksie op estrogeen en ander vroulike hormone, maar ook genetika, veroorsaak en kan tot pyn en ongemak lei.

Camilla Neelse, wat in haar jonger dae ’n kranige ballerina en danseres was, vertel dat haar borste oor die afgelope paar jaar so uitgesit het dat sy nie meer ’n bra kan dra nie en sy sukkel nou om uit haar bed op te staan.

Haar borste weeg volgens haar gesamentlik meer as 14 kg.

Neelse, wat 140 kg weeg, sê dat haar borste elke twee maande met ongeveer 3 cm tot 5 cm groei.

Die gewig van haar borste het onlangs tot gevolg gehad dat sy haar sleutelbeen, borsbeen en skouers ontwrig het.

Volgens Neelse is sy in 2016 ná jare se lyding met gigantomastie ge diagnoseer.

Sedertdien veg sy ’n opdraande stryd. “Die siekefonds wil nie vir die operasie betaal nie.

Ek het al alles probeer en al baie met hulle baklei, maar dit help nie,” sê sy. Volgens Neelse benodig sy meer as R85 000 vir ’n operasie om haar borste te laat verklein.

Gigantomastie Suid-Afrika, ’n nie-winsgewende organisasie wat Neelse begin het om Suid-Afrikaners wat aan gigantomastie ly te help, hou Saterdag (10/11) om 15:00 ’n modevertoning in die Mittah Sepereperekonferensiesentrum om geld vir haar operasie en ook vir ander gigantomastie-lyers in te samel.

Die prys van toegang wissel van R70 tot R150.

DJ Farouk, plaaslike sangers, dansers en orkeste sal optree.

Bel Wadaya Neelse by 064-216-8771 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.