a balance scale on a table
Ter illustrasie. Foto: Katrin Bolovstova/pexels.com

‘n Vrou wat R1 miljoen in skadevergoeding van ‘n nasionale winkelgroep eis, moet self die regskoste van haar aansoek opdok. Haar aansoek is steeds onafgehandel.

In dié regsgeding in die hooggeregshof in Kimberley eis sy dié bedrag in skadevergoeding van die Spar-groep, sekuriteitswagte en die winkelbestuurder van die Spar in Springbok.

Die voorval het op 7 Mei 2020 in die Spar-winkel plaasgevind nadat die sekuriteitswagte Vuyiswa Menemene van diefstal beskuldig het.

Die Noord-Kaapse dorp, Springbok. Foto: springboknc.co.za

Sy is twee uur lank in die kantoor aangehou.

Die winkelbestuurder het geweier om klagte teen Menemene in te dien. Sy kon geen bewyse vind dat die wagte se vermoede waar was nie.

Menemene is toegelaat om die winkel te verlaat, waarna sy die eis in 2021 vir onregmatige inhegtenisneming en aanhouding by die hof ingedien het.

Sy het aangevoer die betrokkenes het kwaadwillig en sonder prima facie bewyse opgetree om haar waardigheid en selfvertroue aan te tas.

In die twee uur dat sy aangehou is, kon sy nie met vriende kuier nie, nie kos eet wat sy self gekies het nie, nie in ‘n liefdevolle verhouding met haar lewensmaat verkeer nie en is sy van haar vryheid ontneem.

Die eiser voer aan sy is ‘n slagoffer van naamskending en haar persoonlike en grondwetlike regte is aangetas.

Onlangs is ‘n bestraffende kostebevel teen Menemene deur regter Mpho Mamosebo toegestaan.

Berekening van bedrae nie verduidelik

Die regter het in die guns van die verweerders, wat ‘n eksepsie-aansoek ingedien en aangevoer het, bevind dat die pleitstukke teen hulle vaag en kwetsend is.

Voorts is geen wesenlike feite of motivering van die beweerde optrede in die eerste en tweede stel pleitstukke weergegee waarop die verweerders hul verweer kon grond nie.

Die regter het voorts met die verweerders saamgestem dat die presiese gronde van die eis, wat wissel tussen onregmatige inhegtenisneming, kwaadwillige aanhouding en vervolging, onduidelik is. ‘n Saak van naamskending moet ‘n afsonderlike geding wees.

Boonop, in die eis van altesaam R1 miljoen (byvoorbeeld R350 000 vir onregmatige inhegtenisneming) word die berekening van verskillende bedrae nie verduidelik nie. Ook voldoen die berekeninge nie aan die hofreëls nie. Vri die rede kan die verweerders nie redelikergewys dié bedrae assesseer nie.

Na die beslissing moet Menemene binne 21 dae sedert die hofbevel die verdere besonderhede van haar eis aanpas.

Sanele Mjila het in opdrag van Petshana Prokureurs vir Menemene opgetree, en adv. J.L. Oliver in opdrag van Gildenhuys Malatji Ing vir die verweerders.

You need to be Logged In to leave a comment.