’n Vrou van Upington was amper R600 000 se geleende geld kwyt nadat sy met ’n slenter uitgevang is waarin daar gebid sou word dat die geld vermeerder.

Te danke aan die optrede van lede van die Upington-grenspolisie, wat op inligting reageer het, het die vrou slegs ’n verlies van R135 000 gely, sê sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder.

Die inligting ontvang was oor swendelaars wat besig was om ’n vrou te bedrieg.

Sy het glo aansoek om ’n lening gedoen en ’n aansienlike bedrag kontant aan hulle betaal om daarvoor te bid sodat dit in waarde sou toeneem.

Nadat die polisielede die vrou op Donderdag 18 Julie opgespoor het, het sy bevestig dat sy ’n lening van R600 000 aangegaan het en reeds die vorige dag R480 000 kontant aan die drie vermeende swendelaars betaal het.

Terwyl die polisie met ’n soektog na die drie besig was, het hulle nuwe inligting ontvang dat die verdagtes Upington verlaat het en in die rigting van Olifantshoek onderweg was. Met die hulp van die ZF Mgcawu-hoofwegpatrollie is die vermeende swendelaars op die N14 ingehaal.

’n Bedrag van R345 000 is volgens die polisie in hul besit gevind.

Die drie mans is al drie buitelanders en is onderskeidelik 30, 34 en 43 jaar oud. Hulle is onmiddellik in hegtenis geneem.

Hulle sou eersdaags in die landdroshof in Upington verskyn, op aanklagte van bedrog.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article