’n Vrou (22) van Kimberley is agter tralies vir vermeende dwelmhandel nadat die polisie haar Donderdag (24/02) met 1,6 kg se kristalmetamfetamien (tik) en 100 Mandrax-tablette betrap het.
Die polisie in Kimberley se misdaadintelligensie-eenheid en die K9-eenheid het op ’n huis in Waldeckstraat toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het, sê kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder.
Die polisie se snuffelhond het die dwelms uitgesnuffel wat in ’n kontinentale kussing versteek was. Die straatwaarde van die dwelms is sowat R488 000. Sy sou na verwagting Vrydag in die hof verskyn.