Vroeg uit die vere gee woema vir dag

In die derde eeu voor Christus het die Griekse wysgeer Aristoteles al gesê as jy vroeg opstaan, waarborg dit gesondheid, rykdom en wysheid. Maar nie almal wil met hanekraai uit die kooi spring nie.


In die derde eeu voor Christus het die Griekse wysgeer Aristoteles al gesê as jy vroeg opstaan, waarborg dit gesondheid, rykdom en wysheid. Maar nie almal wil met hanekraai uit die kooi spring nie.

In haar boek What the Most Successful People Do Before Breakfast skryf­ Laura Vanderkam dat 90% van uitvoerende hoofde voor 06:00 ontwaak, aldus navorsing. Sy noem verder dat 50% van selfgemaakte miljoenêrs drie uur voor hul werkdag begin, opstaan.

Wees ’n dapper doutrapper

Om ’n gewoonte daarvan te maak om vroeg op te staan is al die “produktiwiteitsmetode’’ genoem.

Motiveringsprekers is lief vir die frase “oorwin die oggend, oorwin die dag”. Dit word veral met die Amerikaanse lewenstylghoeroe Tim Ferriss verbind. Hy glo as jy vroegdag “wen’’, verloop die res van jou dag sinvol as ’n positiewe rimpeleffek op jou skedule.

Jou heil lê beslis in vroeg opstaan en ’n sweetsessie, meen Nelia Harding, ’n biokinetikus.

“Wanneer jy oefen, stel jou liggaam goedvoelhormone soos serotonien en dopamien vry,” sê sy.

“Kardiovaskulêre oefening – soos draf, stap, roei en swem – veroorsaak dat die hart meer bloed na jou spiere pomp, sodat dit meer suurstof inneem. Jy voel werklik hoe die bloed deur jou are bruis.’’

Om die son te sien opkom, en boonop jou hart vinniger te laat klop, kry jou in die regte luim vir die res van die dag.

“Dit laat jou goed voel oor jouself en gee ’n gevoel van beheer.”

As jy nie kans sien om dou te trap nie, besluit bloot om wél te oefen.

“ ’n Mens sal altyd verskonings vind om nie te oefen of vroeg op te staan nie. Maar dit is ’n belegging in jou gesondheid vir die toekoms.”

Sien die lig

Marteleze van Graan, ’n sportsiel­kundige, reken oggendlig is een van dié kragtigste moedversterkings.

“Natuurlike lig, selfs helder kunsmatige lig, laat die liggaam vitamie­ne D en endorfiene, ook bekend as goedvoelhormone, afskei. Dit help dat jy opgewek en energiek voel.’’

Wanneer jy reeds vroegdag aan natuurlike lig blootgestel word, help dit met die regulering van die liggaam se sirkadiese ritme – jou lyf se 24 uur lange interne liggaams­ritme, wat ook jou slaappatrone reguleer. As dit nie behoorlik werk nie, het dit ’n negatiewe uitwerking op fisieke en emosionele werkinge in die liggaam.

Voor die ontdekking van elektrisiteit het die mensdom buitenshuis slegs op natuurlike lig staatgemaak. Danksy die koms van elektrisiteit kan ’n mens die tyd dat lig beskikbaar is, kunsmatig verleng, maar dit het ander probleme veroorsaak. Tegnologiese blootstelling – weens die kunsmatige gloed van jou selfoon, skootrekenaar, iPad en Kindle – kan jou sirkadiese ritme verander en tot slaapstoornisse en buierigheid lei, aldus die vaktydskrif Translational Psychia­try.

In streke met min sonlig in die wintermaande kan seisoenale depressie inwoners verlam. Dit is ’n geestesiekte wat kenners aan verlaagde serotonienvlakke toeskryf.

Verskeie studies wys dat daar ’n verband is tussen langdurige blootstelling aan sonlig en verhoogde serotonienvlakke, die hormoon wat ons buie en emosies reguleer.

In plekke waar dit tydens die winter om middaghoogte soos skemer lyk, het die gebrek aan natuurlike lig ’n beduidende uitwerking op die inwoners se sirkadiese ritme en worstel hulle met depressie, rusteloosheid, konsen­trasie­probleme, slaapstoornisse, moegheid en selfs selfdoodgedagtes.

Wanneer dit by slaap kom, reken Van Graan agt uur is ideaal, maar nie noodwendig realisties nie.

“Dit is baie belangrik om te bepaal hoeveel slaap jy werklik nodig het om uitgerus en verfris te voel.”

As jy moeg is, kan dit tot depressie lei. Ander mense verander in ’n nukkerige, buierige kleuter as hulle nie minstens agt uur in droomland deurbring nie. Te veel slaap kan egter jou kop wollerig laat voel – asof jy langer neem om iets te begryp en vergeetagtig is.

Raadpleeg ’n sielkundige of slaapkenner as jy oor jou slaapbehoeftes twyfel.

Marguerite van Wyk

You need to be Logged In to leave a comment.